Update
STILBAAI NUUS - Die behuisingsprojek net buite Melkhoutfontein is weer Vrydag 29 April deur Tertuis Simmers, Wes-Kaapse minister van infrastruktuur besoek om te kyk of die behuisingsprojek nog binne die beplande tydsraamwerk vorder.
Soos voorheen berig is die projek om 585 huise te bou 'n lank gekoesterde droom. Sedert die minister se vorige besoek op 17 September verlede jaar toe hy die sooispitgeleentheid waargeneem het, het die kontrakteur gewoel om die siviele dienste gereed te kry.
Die eerste fase behoort teen einde Junie vanjaar voltooi te wees. Die paaie is gebou en stormwaterpype is gelê. Volgende aan die beurt is die wateraansluitings en keermuurtjies by die ongelyke erwe.
Indien alles volgens plan verloop, sal die bouery in Julie begin en 200 huise behoort in die finansiële jaar voltooi te wees.
Volgens Simmers is hierdie projek vir hulle baie belangrik omdat dit wys dat die Wes-Kaapse regering hulle beloftes nakom. "Die regering kan dit egter nie alleen doen nie.
Hessequa-munisipaliteit moet ook hulle deel doen om die projek suksesvol te maak," het hy gesê
Hy het 'n klip in die bos gegooi met die vraag of die munisipaliteit miskien al daaraan gedink het om erwe beskikbaar te stel sodat inwoners met eie finansies hul huise kan bou om die finansiële las op die munisipaliteit te verlig.
Chris Onrust, direkteur van gemeenskapsdienste het genoem dat daar streng volgens die behuisingskriteria opgetree word en slegs mense wat al drie jaar op die waglys is, sal kwalifiseer.
Renee Davids, wyksraadslid vir Melkhoutfontein, het sy dank uitgespreek dat hierdie projek 'n werklikheid geword het, maar ook sy kommer dat daar geen heining in die vooruitsig gestel word tussen die projek en die paaie daarom nie.
Die pad tussen Stilbaai en die N2 dra baie verkeer en huiseienaars sal self omheinings moet aanbring om die kinders te beskerm.
Onrust het Simmers deur die terrein geneem en vordering aan hom uitgewys, waarna die minister beloof het om die terrein weer in Julie te besoek.
Vorige artikel: Minister besoek Melkies
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'