RIVERSDAL NUUS - Op die mooi ouderdom van 90 het die meeste mense al vergeet dat hulle twee of drie dekades gelede afgetree het. Nie oom Gawie Louw nie.
Hy boer nog op sy plaas Zandkraal net buite Riversdal en doen steeds sendingwerk in die distrik.
Wat hy al in sy lewe bereik het, kan mens boeke vol skryf. Dit kan in twee woorde opgesom word: merkwaardig en navolgenswaardig.
Lidmate van die Sewendedagadventiste in Riversdal het verlede Woensdag tydens 'n geselligheid sy 90ste verjaarsdag saam met oom Gawie gevier.
Hy het die Sewendedagadventiste in Riversdal begin waar hy ook sy vrou. Marie, ontmoet het. Hulle was 61 jaar getroud voor sy oorlede is.
Hy is in 1932 in Prins Albert gebore. Vandaar is hulle met 'n wa en span donkies en hul vee die Groot-Karoo in voor hulle in die Paarl in Dal Josafat nes geskop het. Oom Gawie het by die Hugenote Gedenkskool tot standerd ses gevorder voor hy ook moes uitspring en help boer.
"Ons was baie arm en het maar swaargekry. Ek wou bitter graag sendeling word, maar daar was eenvoudig nie geld nie."
Toe het Kaapstad gewink waar oom Gawie by die Kaapse Tegniese Kollege gematrikuleer het.
En toe gaan daar in die mediese wêreld vir hom deure en ongelooflike geleenthede oop.
Eers as verpleër by Karl Bremer-hospitaal en toe word hy opgekommandeer om te help om 'n navorsingseenheid by die Universiteit Stellenbosch se mediese fakulteit te help vestig.
Hy is toe na die Wits-universiteit gestuur om in nefrologie te spesialiseer en later na Onderstepoort waar hy in dieretegnologie opgelei is. Uiteraard is hy by die Mediese en Tandheelkundige Raad geregistreer en kon hy met sy opleiding 'n vername rol speel in die uitbouing van die navorsingseenheid by die latere Tygerberg-hospitaal.
Sy paaie het met dié van dr. Christiaan Barnard, Suid-Afrika se hartpionier, gekruis en hy was saam met hom betrokke by die nieroorplanting op 'n bruin seuntjie wat destyds internasionale opslae gemaak het.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'