STILBAAI NUUS - Die oorblyfsels en nadraai van apartheid is blykbaar die oorsaak dat min bruin mense die derde Boekefees vanjaar op Stilbaai bygewoon het.
Só meen Elna van der Merwe, die boekefeeskurator.
Vanjaar se fees van woorde is afgesluit met dié tergende vraag: Rassisme in “veilige ruimtes”: een tree vorentoe, twee terug?
Dié tema spruit uit die skrywer en regverdigheid-aktivis Bettina Wyngaard se traumatiese ondervinding by ‘n ánder fees toe ‘n wit paartjie die tafel verlaat het toe sy en ‘n swart kollega - mét instemming deur die ander wit paartjie aan tafel - sitplek ingeneem het.
Wyngaard was verbaas en geskok, aanvanklik sprakeloos en erg gekrenk. Sy dit haar voorgeneem om voortaan alle feeste te vermy en het dit selfs oorweeg om op te hou skryf.
Toe besin sy daaroor. Die mediapersoonlikheid Ingrid Jones het ‘n gelaaide onderwerp met empatiese deernis en ‘n gesonde skeut patos en terg-spot met haar en die akademikus, prof. Christi van der Westhuizen, oor die ongelooflike rassisme-verskynsel - selfs nog in 2024 - gesels.
Wyngaard se ervaring is wyd op sosiale media gedeel, gekritiseer en kleineer. Aanvullend, in perspektief, is dié kwelkwessie onderhoudend op literêre aanlyn-tydskrifte gedebatteer.
Van der Westhuizen het uitgewys niemand met ‘n wit vel durf ‘n bruin of swart mens se innerlike ervaring van rassisme as traak-my-nie-agtig probeer verdedig-afmaak as “fyngevoeligheid” nie.
Tydens die gesprek het Ingrid Jones opgemerk dat daar die vorige jaar elf bruin mense in die gehoor was; vandag net vyf. Sy wou weet waarom?
Die feeskurator het repliek gelewer en uitgewys Stilbaai het twee kante; ‘n witte (Stilbaai) en ‘n bruine (Melkhoutfontein). Sy het apartheid en rassisme in dié dorp beskuldig. Intussen, voeg sy by: “Die hele Melkhoutfontein is wel nie uit Stilbaai verskuif nie. Daar is wel families wat hul huise verloor het toe hulle Melkhoutfontein toe moes trek.
Met al drie feeste het ons komplimentêre kaartjies en taxi-vervoer aan Melkhoutfonteiners verskaf vir die Vrydagaand-opening-gesprek en -ete asook voldagkaartjies vir Saterdag se ses gesprekke.
Verlede jaar het ons die skrywer Ivor Swartz na Melkhoutfontein Primêr geneem vir ’n baie suksesvolle gesprek met die senior leerders. Vir 2025 gaan ons groter planne bedink om al twee dorpe se inwoners in die feessaal te sien sit.”
Wyngaard se ervaring het daartoe gelei dat alle feeste nou ‘n amptelike resolusie in plek het wat daarop dui dat alle vorme van diskriminasie – rassisme, seksisme, seksuele voorkeur, geloof en ander kultuurverskille – nie geduld sal word nie. Feesgangers wat hulle daarin skuldig maak, sal “verwyder” word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’