SLANGRIVIER NUUS - Desondanks die Covid-19-pandemie wat wêreldwyd geheers en veral ons senior burgers se gesondheid bedreig het, het die dorp se oudste inwoner, Siena, oftewel "ant Ties" Fredericks nog ’n mylpaal bereik.
Ant Ties is Donderdag 1 September heerlik verras met ’n koek, geskenk deur wyksraadslid Gerald Boezak om haar 107de geboortedag te herdenk.
Boezak het egter met sy aankoms ontdek dat daar miskommunikasie was met ant Ties se ouderdom en dat die ouderdom op die koek aandui dat sy 'n jaar ouer is.
Sy het dié besonderse dag op haar geboortedorp stil-stil saam met haar dogter, Fransiena Pieters by wie sy woon, gevier. Ant Ties geniet steeds redelike goeie gesondheid en spog nog dat sy nie op enige medikasie is nie.
Sy is egter van ’n rolstoel afhanklik, omdat haar bene die afgelope jaar of drie nie meer so sterk is nie.
Wat egter kommerwekkend is, is dat ant Ties nog steeds op dié rype ouderdom in ’n sinkhok saam met Fransiena (66) en haar gesin moet bly.
Volgens Pieters geniet haar ma nog redelike goeie gesondheid en weet hulle nie wanneer laas sy by die kliniek of hospitaal was vir ’n ondersoek nie. Sy is egter ’n bietjie doof.
Haar man, Piet, het haar 22 jaar gelede ontval. Hulle het drie dogters en een seun gehad. Laasgenoemde het haar ook al ontval. Daar is ook 10 kleinkinders, 18 agterkleinkinders en sewe agteragterkleinkinders.
Die gemeenskap van Slangrivier sê "veels geluk ant Ties."
'Ons bring jou die nuutste Slangrivier, Hessequa nuus'