HEIDELBERG NUUS - Dis nie aldag wat iemand met nege dekades agter die blad nog so immergroen voorkom nie.
Maar, dit kan met gemak gesê word van een van dié dorp se bekendste inwoners van Heidelberg, Pyriah Nyman, wat Saterdag, 21 Augustus haar 90ste verjaarsdag gevier het.
Ant Pirrie, 'n afgetrede verpleegster wat as vroedvrou haar stempel op die gemeenskap afgedruk het, het haar 90ste aan huis in Hoogstraat saam met familielede, vriende en bure gevier. Sy geniet goeie gesondheid en sprankel nog soos altyd.
Ant Pirrie het op 60 afgetree nadat sy in beide die openbare en privaat-sektore haar dienste passievol gelewer het. Haar eggenoot, sers Harvey Nyman, met wie sy 42 jaar getroud was, het haar 25 jaar gelede ontval. Die egpaar het een seun, twee dogters, 10 kleinkinders asook een agter-agterkleinkind.
Gepols oor wat haar werksleuse al die jare was, sê sy sonder om te skroom: "Ken jou pasiënt se omstandighede sodat jy hulle beter verstaan. Sodoende sal jy beter aan hul behoeftes kan voldoen."
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'