Update
RIVERSDAL NUUS - Die ANC Hessequa is nie tevrede met die munisipaliteit se voorneme om 'n R30 miljoen eksterne lening op te neem ter gedeeltelike finansiering van sy kapitaalprogram vir 2018/19 nie.
"Die ANC Hessequa betreur die besluit van die DA/VF+ beheerde raad om 'n verdere lening van R30 miljoen op te neem," sê rdl. Elias Dayimani, ANC-Sweep in die raad.
"Die trant waarmee lenings opgeneem word jaarliks die afgelope tyd sedert die DA hierdie raad oorgeneem het is besig om gevaarseine te gooi vir ons inwoners. Die afgelope jare was enorme bedrae geleen wat die belastingbetalers jare gaan neem om hierdie skuldlas terug te betaal."
Volgens Dayimani is die ironie van hierdie lenings dat 90% daarvan net in Stilbaai bestee word en dus net tot daardie inwoners se voordeel is, terwyl al die inwoners/belastingbetalers die lenings moet afbetaal. "Intussen verswak dienslewering in ons ander dorpe en gaan ons inwoners se lewenstandaarde agteruit."
Hy beweer ook dat nasionale tesourie in 'n skrywe aan die raad rakende die opneem van hierdie lening die raad waarsku dat die trant van lenings wat deur die Hessequa Raad opgeneem word, nie 'n gesonde praktyk is nie.
"Dit is belangrik om kennis te neem dat hierdie nie 'n DA-lening is nie, maar 'n lening wat die Hessequa-munisipaliteit opneem," sê Marina Griesel, direkteur: korporatiewe bestuur van die munisipaliteit op Suid-Kaap Forum se navraag.
Volgens haar het die raad met die oorspronklike goedkeuring van sy 2018/19 MTREF-begroting 'n heelwat groter bedrag vir 'n eksterne lening goedgekeur, maar die bedrag kon weens besparings en eie finansiering verminder word tot die huidige bedrag wat opgeneem gaan word.
Die eksterne lening is, soos wetlik vereis, in die plaaslike koerant vir die publiek se kommentaar geadverteer. Die kennisgewing is ook vir kommentaar aan die nasionale- en provinsiale tesourie voorsien. Die raad het op 6 Junie 2019 besluit dat die eksterne lening vir die doel opgeneem mag word.
Die volgende projekte sal deur die lening befonds word: Die uitbreiding van Heidelberg-begraafplase; uitbreiding van die Thusongsentrum op Riversdal; opgradering van die 11KV-hoofsubstasie op Albertinia; opgradering van Strandstraat in Jongensfontein; ontwikkeling van die Westlyweg-verbypad in Stilbaai; uitbreiding van die bestaande rioolinfrastruktuur op Albertinia; opgradering van grootmaat rioolverwerkingsaanleg fases 1 en 2 op Stilbaai; opgradering van die rioolwerke op Gouritsmond; uitbreiding van die vloei-rioollyn by 'n skool op Heidelberg; nuwe gravitasie-verspreiding by Stilbaai; opgradering van rioolwerke by Stilbaai; vervanging van water-infrastruktuur in Heidelberg; opgradering van netwerk-drukverhogingstasie by Witsand; nuwe reservoir by Platbos fase 1; nuwe waternetwerkverspreiding by Stilbaai; en 'n 4x4 voertuig wat met medium-waterpompe toegerus is vir die brandweer se gebruik.
Lees 'n vorige artikel hier: ANC ongelukkig oor 'DA-lening' van R30 miljoen
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'