Die fees het Vrydagaand, 13 Junie amptelik afgeskop met sangers Arno Jordaan, Bobby van Jaarsveld en Die Weskusklong. Vyfhonderd kaartjies was reeds voor die tyd uitverkoop en mense wat laat geslaap het, moes teleurgesteld omdraai.
Die gewilde talentkompetisie was in die gemeenskapsaal gehou en was volgepak met familie en vriende wat gaan kyk en ondersteun het.
Saterdagoggend het begin met Mej Aalwyn en haar twee prinsesse wat 'n blitsbesoek aan een van die plaaslike ondernemings gebring en met van die plaaslike inwoners saamgekuier het. Daarna het hul deel gevorm van die jaarlikse optog van ou trekkers en waaraan die veteraanmotors 'n eerste keer deelgeneem het.
Die Giant Aloe MTB Challenge, wat voortaan 'n jaarlikse instelling gaan wees, was ook hierdie jaar vir die eerste keer aangebied en 161 inskrywings is ontvang. Die baba- en kleuterkompetisie was nog 'n gewilde nommer op die program en almal wat deelgeneem het, het 'n prys gewen.
Simoné Koen (Mosselbaai) is as Mej Junior Aalwyn gekroon, met Bianca Lombaard (Riversdal) as Eerste Prinses en Jamari Prins (Albertinia) die Tweede Prinses. Lashe Struwig (Mosselbaai) is as Mej Tiener Aalwyn aangewys, met Eerste Prinses Farren Jacobs (Mosselbaai) en Tweede Prinses Erin-Marie Errol (Albertinia). Die wêreldrekord-trui het ook amptelik afgeskop en terwyl al hierdie aktiwiteite aangebied is, kon die vrouens lekker by die koffiekroeg wat spesiaal daar ingerig was, saamkuier en die modevertoning met die nuutste wintermodes geniet.
Vir die buitelugliefhebber was daar knorfietse en 4x4 Rebels, pretstap bo 50, pretdraf en gholf. Intussen kon besoekers tussen die meer as vyftig stalletjies rondsnuffel na winskopies en uit die 21 kosstalletjies iets te ete kry. Ander gunstelinge was 'n potjiekos kompetisie, biertent, verskeie kunstenaars wat opgetree het, 'n wynproe deur verskeie kelders, 'n aalwyn simposium, gesigverf vir kinders en pretpark.
Volgens die voorsitter van die feeskomitee, Piet Janse van Rensburg, was die fees suksesvol en het almal dit geniet. "Baie dankie aan die span wat al die harde werk ingesit het, borge en die besoekers. Volgende jaar maak ons weer so, maar net groter."

Sangers Bobby van Jaarsveld (links) en Arno Jordaan (inlas) het by die Garden Route Game Lodge tuisgegaan tydens die Aalwynfees. By Bobby staan senior Ranger Ashley Gouws.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'