HESSEQUA NUUS - Wat 'n welverdiende uitstappie na Witsand moes wees na die opheffing van die verbod op toegang tot strande, is Saterdag, 6 Februarie om ongeveer 12:00 vir 'n egpaar van Swellendam tragies kortgeknip.
Desmond Matthysen (61) het in die see verdrink nadat hy vermoedelik 'n hartaanval of beroerte gekry het terwyl hy geswem het. Die oorledene, 'n ywerige swemmer en sy vrou Elizabeth, met wie hy 31 jaar getroud was, het daarna uitgesien om weer die seewater aan te durf.
Volgens Gershon Matthysen het sy ouers gereeld op Witsand tyd spandeer om te ontspan. Hy noem dat sy ma op die strand gesit het terwyl sy pa geswem het. Hy vertel verder dat van die ander swemmers skielik 'n uitroep om hulp gehoor en nader geswem het om te kyk wat aangaan.
"My ma het intussen die see ingestap om na my pa te soek, toe sy sien dat van die swemmers 'n persoon uit die water strand toe dra. Dis toe dat sy my pa aan sy swembroek uitken en nader hardloop."
Die polisie en ambulans is ontbied, maar ten spyte van die hulp van 'n onbekende dokter van Stellenbosch wat ook op die toneel was, kon hy nie bygebring word nie.
Gershon vertel dat sy pa vir 36 jaar as skoonmaker by Laerskool Swellendam diens verrig het en dat hy in die nabye toekoms sou aftree. Matthysen senior was 'n talentvolle sportman in sy jong dae en het vir die plaaslike rugbyklub, sowel as vir SWD as slot uitgeblink.
Buiten Gershon en Elizabeth, laat Matthysen nog vier seuns en nege kleinkinders agter.
Lewensredders
Intussen is daar ontevredenheid omdat daar geen lewensredders tydens die voorval teenwoordig was nie. Vennito van Niekerk, plaaslike onderwyser en wykskomiteelid het gesê dat mens sou dink dat die munisipaliteit hul veiligheidsmaatreëls sou verander en aangepas het nadat president Cyril Ramaphosa die inperkingsregulasies verlede Maandagaand, 1 Februarie aangepas het.
"Hessequa spog met ses blouvlagstrande, maar dis duidelik dat die blouvlagstatus nie die naweek gehandhaaf is nie. Dit wil vir my voorkom dat daar net "window dressing" gedoen word om blouvlagstatus te bekom," het Van Niekerk bygevoeg.
Volgens Van Niekerk het twee lewensredders hul werkstoerusting na die voorval daar gaan opsit.
In kommentaar na 'n geskrewe versoek aan Johan Jacobs, munisipale bestuurder het hy in 'n persverklaring gesê dat die lewensreddingsdienste op blouvlagstrande op 24 Januarie (na die feesseisoen) beëindig is. "Met die oopstel van strande en swembaddens deur die president, die verlenging van die skoolvakansie tot 14 Februarie, die warm weer wat ons tans beleef wat meer mense na ons strande lok, asook die tragiese verdrinking van die afgelope naweek, is daar besluit om lewensreddingsdienste op blouvlagstrande dus tot 14 Februarie te verleng," lui die verklaring. Jacobs het sy medelye en simpatie teenoor die familie van wyle Desmond Matthysen uitgespreek.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'