VERKIESINGSNUUS - Daar is minder as 50 dae oor voor die sesde nasionale en provinsiale demokratiese verkiesing op 8 Mei.
Die Onafhanklike Verkiesingskommissie se hoofverkiesingsbeampte, Sy Mamabolo, het Woensdag 20 Maart bekend gemaak dat 48 politieke partye aan die verkiesing gaan deelneem.
Die partye het by 'n geleentheid by Gallagher Estate in Midrand onderneem om by die verkiesingsgedragskode te hou. Dit sluit in dat partye mekaar moet respekteer en verdra en nie opruiende spraak wat politieke geweld teen ander partye, lede van die OVK en die media aanhits of kiesers intimideer nie. Die owerhede moet betyds van vergaderings en optogte in kennis gestel word.
Partye moet hulle ook daarvan weerhou om valse inligting oor ander partye en hul kandidate te versprei, die partye se logo's te misbruik of hul plakkate beskadig, ontsier of verwyder nie. Hulle moet ook die kiesersuitslae aanvaar of dit in die hof betwis.
Algemene inligting
Daar is 26 756 898 kiesers op die kiesersrol, waarvan 55% vroue en 45% mans. Kiesers jonger as 29 maak 20% van die kiesers uit. Dié syfer verteenwoordig 745% van die stemgeregtigde kiesers in die land, wat sedert 1999 met 47% toegeneem het.
Daar is 22 924 stemlokale landwyd, asook 32 mobiele stemlokale.
Altesaam 29 334 Suid-Afrikaners in die buiteland het geregistreer om op 27 April by die land se 121 buitelandse kantore wêreldwyd te stem. Dit is 10% meer as die 26 716 wat in 2014 in die buiteland gestem het.
Meer as 50 miljoen stembriewe sal gedruk word. Hiervoor sal 40 ton papier gebruik word en die produksieproses sal twee weke duur.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'