Video
RIVERSDAL VERKIESINGSNUUS EN VIDEO - Die DA het met die verkiesing onteenseglik die septer in Hessequa geswaai. Hulle het die oorwinning met 11 610 stemme teenoor die ANC se 9 147 beklink.
Grant Riddles, uitvoerende burgemeester en Andrew Stroebel, speaker, het Vrydagmiddag 10 Mei hul dank teenoor die kiesers uitgespreek wat hulle ondersteun het.
"Ons wil eerstens die hele gemeenskap vir die goeie opkoms by die stembusse bedank," het Riddles, wat ook 'n bestuurslid van die DA se Oos-streek en koukusleier is, gesê. "Hulle het daarmee hul demokratiese reg uitgeoefen." Hy het veral die DA-kiesers bedank vir hul getroue en lojale ondersteuning van die huidige raad wat sedert 2016 in die stoel is.
"Dit is 'n merkwaardige prestasie dat die DA-stemme met ongeveer 2 600 toegeneem het. Ons is bly om te sien die gemeenskap is gelukkig met wat die DA doen. Ons het in 2016 belowe om 'n omgee-munisipaliteit te skep, en die stemme wys dat ons dit reggekry het."
Volgens Stroebel, wat ook die voorsitter van die DA in Hessequa is, het die DA, indien 'n mens die stemme per wyk ontleed, in ses van die nege wyke van die munisipaliteit die meerderheid-stem gekry. "Dit bevestig vir ons dat die gemeenskap voel ons is op die regte pad."
Volgens Stroebel gaan die DA-beheerde raad voortbou op die suksesse wat hulle reeds in die streek behaal het. Dit sluit in om voort te bou op die vyf agtereenvolgende skoon oudits; goeie dienslewering op alle terreine, insluitend basiese dienste; belegging in infrastruktuur wat paaie, water, elektrisiteit, riool en sportfasiliteite insluit; die oordeelkundige bewaring van waterbronne regoor Hessequa en die skep van werksgeleenthede deur onder andere die konstruksie- en kleinhandelbedryf te stimuleer.
"Ons skep 'n klimaat vir belegging deur rompslomp uit te skakel. Ons is trots daarop dat bouplanne binne enkele dae goedgekeur word, mits die aansoeke volledig is."
Stroebel het al die inwoners bedank vir 'n vreedsame verkiesing. "Dit is 'n bewys van al die partye in die streek se politieke volwassenheid. Die Hessequa-gemeenskap moet hierdie aspek koester."
Riddles het bevestig dat die DA sy koalisie met die VF+ voortsit. "Al het ons 'n volstrekte meerderheid behaal, glo ons dat hierdie koalisie kan voortgaan om al die gemeenskappe beter te kan dien." Die VF+ het 1 170 stemme behaal.
Watch a video below:
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'