HESSEQUA VERKIESINGSNUUS - Die ANC het hul ondersteuners, die OVK en ander partye wat aan die verkiesing deelgeneem het, bedank vir hul samewerking om stemdag glad te laat verloop.
Cameron Dugmore, ANC-kandidaat in die Wes-Kaap, het Donderdag 9 Mei in 'n verklaring gesê:
"Die mense van Hessequa, die Wes-Kaap en Suid-Afrika het gepraat en hul keuse uitgeoefen. Ek glo ons het nou die geleentheid om vorentoe te beweeg en ons mense oor party-politieke grense heen te dien. Dit is wat nou nodig is.
"Ons het geen ander keuse nie as om president Cyril Ramaphosa se oproep van 'Thuma Mina/Stuur vir my' te gehoorsaam en die uitdagings van armoede, ongelykheid en werkloosheid aan te spreek." Ten einde dit reg te kry, moet drywers wat die ekonomie kan stimuleer geïdentifiseer word. "Ons moet onsself afvra: 'Wat kan ek vir ander doen? en 'Hoe kan ek as werker, professionele persoon, besigheid en gemeenskap help om die ekonomie te laat groei?'"
Hy het ook gesê die ANC sal diep nadink oor die verkiesingsuitslae. "Ons sal hard daaraan werk om ons organisasie te vernuwe en te verenig, om die foute wat ons gemaak het te erken en nie te herhaal nie. Ons sal ons president onvoorwaardelik ondersteun in sy poging om die ANC te vernuwe en met diegene wat skuldig is aan korrupsie - en sodoende die ANC se goeie naam in gedrang gebring het - af te reken.
"Politiek is deel van ons lewens en ons kan nie daaraan verander nie. My versoek is dat ons nou daarop fokus om Hessequa op te bou en nie toe te laat dat kleinlike partypolitiek ons van ons taak weerhou om die mense van Hessequa te dien en te verenig nie."
Chris Taute, die ANC se verkiesingskoördineerder, het die party se ondersteuners bedank vir hul gedissiplineerde stemmery. "Ons wil ook vir Thelma Scholtz en haar OVK-span bedank vir die goeie samewerking en skakeling wat die verkiesing sonder enige ernstige insidente verseker het."
Taute het ook al die ander partye bedank vir hul samewerking om 'n vry en regverdige verkiesing te laat plaasvind.
"Dit is belangrik om te meld dat ons as die ANC voortgaan om te vernuwe en te verenig. As Hessequa-lede en ondersteuners sal ons die oproep van ons president Cyril Ramaphosa ondersteun en uitvoer. Ons glo hy is ons enigste hoop om ons land vorentoe te neem."
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'