ALBERTINIA NUUS - Die dorp gons behoorlik nadat twee vroulike werkers van 'n bekende winkelgroep in hegtenis geneem is op aanklag van bedrog.
Volgens Anelisiwe Manyana, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, het die Swellendam-polisie Dinsdag 2 Julie om ongeveer 19:36 'n klag van bedrog geregistreer nadat daar 'n klag aangemeld is.
'n Jong vrou, wat die bestuurder in Albertinia was en sedert Maandag 1 Julie in Swellendam in diens is, is nog dieselfde aand in hegtenis geneem.
Die saak is op Woensdag 3 Julie vir verdere ondersoek na Albertinia oorgeplaas. Die onderbestuurder is ook op aanklag van bedrog gearresteer.
Die twee beskuldigdes van onderskeidelik 38 en 54 jaar is gewaarsku om op Maandag 8 Julie in die landdroshof in Albertinia op aanklag van bedrog te verskyn.
Die ondersoek duur voort.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’