STILBAAI NUUS - Agri Wes-Kaap het tydens sy onlangse jaardinee op Woensdag 12 Augustus erkenning gegee aan uitstaande polisiebeamptes en -eenhede vir hul bydrae tot die bekamping van veediefstal en die bevordering van landelike veiligheid in die Wes-Kaap.
Sers. Godwin Johnson van Stilbaai-polisie is vereer as die beste landelike veiligheidskoördineerder vir 2025/6.
Sedert sy aanstelling as landelike sektorkoördineerder in 2015 het Johnson hom onderskei deur sy toewyding, dissipline en diens in 'n polisiëringsgebied van sowat 784 vierkante kilometer, wat grootliks uit plase en kleinhoewes bestaan.
In die afgelope jaar alleen het hy 513 plaasbesoeke onderneem en 4 230 patrollies gelei. Hy was ook een van Stilbaai-polisie se hoogste bydraers tot arrestasies, met 53 arrestasies vanjaar, insluitend arrestasies wat verband hou met dwelm- en drankhandel.
Johnson speel, in samewerking met die departement van binnelandse sake, 'n deurslaggewende rol in optrede teen onwettige immigrasie.
Tydens die bek- en klouseer-krisis was hy ook betrokke by kruisgrensoperasies wat die landbousektor direk beskerm het.
Vir boere en produsente in Stilbaai en die wyer Tuinroete-distrik is hy 'n vertroude vennoot wie se plaaslike kennis en toeganklikheid wesenlik bydra tot 'n groter gevoel van veiligheid in die streek.
Agri Wes-Kaap het Johnson bedank vir sy onvermoeide toewyding en die verskil wat hy daagliks maak in die beskerming van die Wes-Kaapse landbougemeenskap en hul bates.
Erkenning vir Stilbaai-polisie
Stilbaai-polisie het ook tydens die geleentheid 'n eretoekenning van Agri Wes-Kaap ontvang vir die uitnemende rol wat die stasie speel om die landelike gebiede veilig te hou.
Die erkennings beklemtoon die belangrike rol wat toegewyde polisiebeamptes en die samewerking tussen die polisie en landelike gemeenskappe in die beskerming van mense, eiendom en die landbousektor speel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’