Op die agenda was terugvoering oor verlede jaar se projekte wat die bootjie by die Stilbaai afdraai, die braaiplekke by Morrispunt asook die verwelkomingsbord by die Stilbaai brug, die CCTV-kameraprojek ingesluit het. Die kamer beoog om in die week te begin met 'n unieke verwelkomingsbord by die dorp se ingang. Hulle dra nie slegs die belange van sakelui op die hart nie, maar beywer hul ook vir die verfraaiing en bemarking van die dorp.
Planne vir 2013
Projekte vir vanjaar waarop hulle ernstig wil fokus sluit in die haweprojek, Julie-se-baai en die verhuring van eenvormige advertensiespasies.
Stilbaai hawe
Mnr. Jan Veldsman, voorsitter van die sakekamer het tydens die vergadering genoem dat die hele hawekwessie 'n eindelose stryd is, dat dit 'n absolute skande is wat op Stilbaai hawe aangaan en dat dit 'n swak advertensie vir die dorp is. Tans poog hulle om 'n positiewe plan op die tafel te kry wat ook langtermyn beplanning sal moet insluit. Daar word gehoop dat, sedert die departement openbare werke ingegryp het die saak vinninger besleg sal kan word tot voordeel van die dorp se toerisme en sakelui.
Julie-se-baai
Julie-se-baai is net so 'n tameletjie vir die kamer en wil hulle probeer dat die area weer meer toeganklik gemaak kan word vir veral studente wat nie duurder kampeer-, of oornagplek kan bekostig nie.
Informele handelaars
Die informele handelarea by die brug is jaarliks 'n onderwerp van bespreking. Die sakekamer is egter van mening dat die area beter aangewend kan word deur plaaslike persone wat handwerk vervaardig en verkoop, in plaas van die tipe ware wat weer die afgelope vakansieseisoen daar verkoop is. Die area behoort die plaaslike ekonomie te stimuleer en nie 'n opsie te wees waar geld uit die streek gaan nie.
CCTV-kamera
Die CCTV-kameraprojek is baie gunstig ontvang en die proeflopie gedurende die vakansie was 'n sukses. Die sakekamer, in samewerking met die plaaslike polisie beoog om die netwerk uit te brei na 'n paar punte in die dorp wat die sakekern en Fynbossentrum sal insluit. Daar is egter groot finansiële uitgawes daarby betrokke en inwoners en sakelui word aangemoedig om hierby in te koop. Hulle is van mening dat die stelsel 'n aanwins vir die dorp sal wees en heelwat sal bydra tot veiligheid, asook as 'n hulpmiddel dien vir die plaaslike polisie.
Die kamerastelsels sal bestaan uit die nuutste gesigerkenning tegnologie (tot op 30 meter) en kan teen 8Gb per sekonde inligting deurgee. Vir die sakekamer om die projek suksesvol in die dorp te loots sal ongeveer R40 000 benodig word.
Drankverkope op Sondae
Die sakekamer het tydens die vergadering aangedui dat hulle die Hessequa munisipa-liteit gaan nader om die wetgewing op te hef rakende drankwinkels wat sake op Sondae doen, aangesien dit grootliks bydra tot die sosiale verval van die gemeenskap.
Sake opgeneem met munisipaliteit
Die sakekamer het belangrike insette gele-wer aan die Hessequa munisipaliteit, veral met die oog op die kapitaal- en bedryfsbegroting. Die opgradering van die elektrisiteitsnetwerk na Stilbaai is as knelpunt uitgewys, aangesien die kwessie reeds jare aankom. Daar is ook insette gelewer rakende die Ruimtelike Ontwikkelings Raamwerk (ROR), veral rakende die industriële gebied en begraafplaasprobleem.
Ander kwessies
Van die ander kwessies wat aangeraak is, sluit in die kantoorure van die munisipaliteit veral gedurende vakansietye, vislisensies en die probleem daaroor omdat dit slegs by poskantore aangekoop kan word en die te-rugbring van Jetski's na Stilbaai. Verder is hulle van voornemens om ook aandag te gee 'n veilige wandelpad, ontspanningsfasiliteite en die opgradering van die sportgronde. Sakepersone wie nog nie aangesluit het by die sakekamer nie, is welkom om kontak te maak met die bestuur.
Die Stilbaai Sakekamer bestuur is van links Martin Lowis, Archie van Dyke, Jan Veldsman (voorsitter), Magda Niemand, Henk Liebenberg, Victor Visagie en Dries de Beer. Afwesig: Beretha Beukes, Kobus Geldenhuys, Dawid October en Sandra Darries. Foto: Louise Mouton