Advertorial
STILBAAI NUUS - 'n Nuwe psigiatriese afdeling is op Vrydag 28 Oktober vir Stilbaai en omliggende gebiede te Carewell deur dr. Mayaven Naidoo geopen.
Die afdeling beskik oor die professionele dienste van 'n kliniese sielkundige, drie voorligtingsielkundiges, 'n arbeidsterapeut en 'n maatskaplike werker en word deur plaaslike algemene mediese praktisyns in Stilbaai, asook Carewell se personeel aangevul.
Die psigiatriese afdeling, wat beskou word as 'n eerste van sy soort in Suid Afrika, gaan deur dr. Naidoo vanuit Johannesburg deur middel van tegnologie en moderne toerusting van hoogstaande gehalte bestuur word om die werkbaarheid van die model te verseker.
Ongelukkig is dit so dat psigiatriese fasiliteite in Derde-wêreldse lande in stede gesetel is en dat pasiënte uit die platteland baie keer daarvan uitgesluit word.
Carewell Sub Akute-hospitaal moes spesiale toestemming by die Wes-Kaapse departement van gesondheid verkry voor hulle die lisensie vir die model in Stilbaai uitgereik het.
Met die nuwe afdeling gaan die versorging van geestes-gesondheid na plattelandse gemeenskappe verskuif word, wat plaaslike geneeshere en terapeute in staat sal stel om die diens daar aan te bied.
Daar gaan onder andere van individuele, sowel as groeps-terapie gebruik gemaak word.
Benewens die psigiatriese afdeling, is daar ook 'n prosedure kamer wat geregistreer is by die Wes-Kaapse departement van gesondheid en wat ook deur al die dokters op Carewell Sub Akute-hospitaal se netwerk gebruik kan word.
Carewell Sub Akute-hospitaal fokus ook op rehabilitasie van pasiënte na bv. knie/heupvervangings of beroerte en ook omvattende mediese behandeling. Daar is ook programme om pasiënte met terminale siektes te ondersteun.
Die onkoloë vanuit George gebruik ook die sessiekamer by Carewell een maal per maand om hul pasiënte te sien.
Carewell Sub Akute-hospitaal in Stilbaai se drie direkteure, Gernot Ihmig, Matthys Streicher en Koos la Grange, is dankbaar en terselfdertyd verheug dat die diens hier aangebied kan word.
Annelie Nel, Carewell se fasiliteitsbestuurder, sê sy beskik oor 'n toegewyde personeelkorps wat te alle tye ten doel het om net die beste diens en professionele sorg aan pasiënte te verskaf.
Vir enige navrae bel Annelie Nel by 028 754 1040.
Ook by die opening van die psigiatriese afdeling was van links: Jan Schutte (uitvoerende hoof van Carewell), dr. Mayaven Naidoo (hoof: psigiatriese afdeling) en Annelie Nel (fasiliteitsbestuurder van Carewell Stilbaai). Foto: Johan Victor
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'