Advertorial
SAKENUUS - 2018 het geëindig in onsekerheid, wisselvalligheid en twyfelagtige besluitneming. Van grensmure bou tussen lande na 'n Brexit, waarvoor daar gestem is, maar wat niemand wil toelaat nie, tot betogende geel frokkiedraende Franse.
Die wêreld is verseker vol interessante verskynsels. Dit alles maak 'n beleggingsomgewing baie onstabiel en bevorder emosionele besluitneming.
Die enigste troos was die verlaging in die petrolprys en 'n minister wat sy rug styf gemaak het om sodoende die ligte aan te hou. Hopelik word die agterstallige instandhouding gedoen sodat ons nie later betaal vir die feit dat ons Kersfeesliggies in elke dorp en stad kon brand nie.
Geleenthede!
Daar is wel goeie geleenthede op die beleggingshorison. Beide aandele en eiendomsaandele (of effektetrusts met aandele of eiendom as onderliggende bates) kan aangekoop word teen baie gunstige pryse en inkomste-opbrengste. BVSA is egter van mening dat beleggers met hierdie aankope minstens 'n medium (3 jaar) tot langtermyn (5 jaar) uitkyk moet neem ten opsigte van verwagte opbrengs.
Baie beleggers kan nie die wisselvalligheid van die markte verdra nie en kan nie wag vir 'n goeie opbrengs wat oor tyd realiseer nie. Meeste beleggers soek dit deurlopend sonder dat kapitaal ooit daal in die tydperk.
'n Verdere uitdaging vir baie beleggers is dat daar inkomstebelasting betaal moet word op huurinkomste ontvang vanaf eiendomsaandele. Selfs dividende word ontvang na 20% dividendbelasting afgetrek is.
Indien 'n belegger egter geld belê in 'n uittree-annuïteit is hy/sy vrygestel van dividendbelasting, belasting op die huurinkomste, belasting op rente, asook kapitaalwins-belasting. Geld kan ook nie in 'n emosionele oomblik uit 'n uittree-annuïteit onttrek word nie omdat dit as aftreegeld beskou word en daar sekere reëls geld om fondse uit aftreegeld te ontvang.
Die kwantifisering van bogenoemde voordeel lyk soos volg
Sou 'n belegger R10 000 se huurinkomste op eiendomsfondse ontvang in 'n finansiële jaar en sy gemiddelde belastingkoers is 25%, sal die belegger R2 500 aan die inkomstediens moet oorbetaal. Indien die huurinkomste egter binne 'n annuïteit verdien word, is niks betaalbaar aan die inkomstediens nie.
'n Bykomende voordeel van uittree-annuïteite is dat 'n belegger se bydrae, tot 'n maksimum van 27,5% van belasbare inkomste, afgetrek kan word van die belegger se belasbare inkomste. Indien 'n belegging in 'n uittree-annuïteit gemaak word voor 28 Februarie 2019 geld die aftrekking vir die huidige belastingjaar.
'n Voorbeeld van bogenoemde voorbeeld werk soos volg
'n Persoon verdien R20 000 per maand en die belasbare inkomste vir die persoon is R240 000 per jaar.
Sou hierdie persoon gedurende die jaar 'n totaal van R48 000 bydrae tot 'n uittree-annuïteit, is die belasbare inkomste slegs R192 000, wat minder belasting tot gevolg sal hê vir die persoon. 'n Maksimum van R66 000 (27,5% van R240 000) kan afgetrek word vanaf belasbare inkomste mits daar soveel bygedra is tot 'n uittree annuïteit.
Beplan jou finansies
Die sleutel tot 2019 vir Jan Alleman is om deeglike beplanning te doen ten opsigte van sy finansies, vanaf kontantvloei tot beleggings. Petrolpryse is onseker en kan maklik styg met 'n verswakking in die Rand of 'n Trump-uitspraak.
Rentekoerse gaan moontlik nog styg in die komende jaar en druk plaas op kontantvloeie.
Kontak gerus u finansiële adviseur vir hulp met beplanning en advies rondom uittree-annuïteite. Maak seker u kry advies wat deel vorm van 'n uitgewerkte finansiële plan en nie geskoei is op emosie nie. - Guillaume Oberholzer