Advertorial Video
RIVERSDAL SAKENUUS EN VIDEO - Die Dibiki-Riversdal-vakansieoord in Truterstraat het amptelik in Desember 2019 geopen.
Oosie en Martie Pretorius, die eienaars van Dibiki-vakansieoord in Hartenbos, het dié vakansieoord wat vroeër as Takkieskloof bekend gestaan het in Augustus oorgeneem en met opknapwerk begin.
Hul dogter Mart-Marie is die bestuurder terwyl haar broers Wietz en Hanno en Idrus Williamson die onderhoud hanteer.
Die groot swembad met 'n duikplank en vlak kinderpoel langsaan het reeds in November heropen. Die swemgebied en uitgestrekte grasperk met braaiplekke onder die koeltebome is omhein en toegang word per persoon gehef. Daar is 'n afsonderlike heffing vir diegene wat wil braai en braaihout is te koop. Geen harde musiek of alkohol word op die terrein toegelaat nie. Daar is veilige parkering vir dagbesoekers se voertuie.
Die skaduryke kampeerterrein bied ruim staanplek vir 16 karavane met sytente. Elke kampeerplek is met sy eie permanente ablusieblok met 'n opwasbak en 'n badkamer met stort, toilet en handwasbak, 'n geiser, elektriese punt en kraan toegerus.
Kyk 'n video hieronder:
"Van die besoekers kom kampeer sommer vir 'n paar maande lank," verduidelik Oosie. "Ons noem hulle 'swaeltjies' want hulle reis en kampeer deur die jaar maande lank oral in die land terwyl hulle hul huise in dorpe en stede uitverhuur om hul pensioengeld aan te vul."
Vier van die 10 vakansiehuisies is reeds opgeknap. Elkeen bestaan uit 'n ruim woon- en eetvertrek en oopplan kombuis, asook 'n slaapkamer met 'n dubbelbed wat 'n en suite-badkamer met 'n stort, toilet en wasbak het. Die banke in die woonvertrek kan as slaapplek dien. Die kombuis is volledig met breekware en eetgerei, 'n elektriese stoof, yskas, mikrogolfoond en televisiestel toegerus. Linne en badhanddoeke word verskaf, maar besoekers moet hul eie swemhanddoeke bring. Elke huisie het ook 'n tafel en stoele op die stoep en 'n eie braaiplek.
Tariewe is beskikbaar op die webtuiste www.dibikiriversdal.co.za. Kontak Mart-Marie Pretorius by 068 213 2845 of 028 713 2117 of stuur 'n e-pos aan info@dibikiriversdal.co.za vir meer inligting.
Die kampeerders kom sommer vir twee maande op ’n keer.
Vakansiehuisies in ’n skaduryke laning.
Die swembad bied lafenis wanneer die kwik op 35 grade staan.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'