Die egpaar en hul vier seuns wat afkomstig is van Noordwes, is reeds ingesetel in die dorp en die amptelike opening van DALicious het Vrydag, 30 Mei plaasgevind. Gaste was deur die dag bederf met heerlike versnaperinge, vonkelwyn en vrugtepons en die aand is daar op 'n heel gepaste wyse 'n wyn- en portproe met sop en varsgebakte brood aangebied in die gesellige atmosfeer van die nuwe eetplek by Travellodge.
Die spyskaart is vir enige smulpaap 'n verrassing, want daar is die gewone disse wat bekend is, maar dan is daar lekker verrassende disse vir daardie ietsie anders. DALicious bied ontbyt, middagetes, kroegetes, spyseniering asook 'n a-la-carte spyskaart op bespreking.
Hul is ten volle gelisensieerd. 'n Groot pluspunt vir Nadine is dat die voorste gedeelte van die koffiewinkel lekker gesellig is vir kleiner groepe, maar sodra sy groter funksies of spesiale aande gaan aanbied - wat natuurlik in haar beplanning is, sal sy die gaste onthaal in die spasie wat tot haar beskikking is waar die ou Wawiel restaurant was.
Tydens die opening is gaste trakteer op wyne van Bredells' wyne asook van Jakkalsvlei.
Daar is drie verskillende soppe bedien, wat onder andere insluit butternut en patat-, lensie lamskenkel- en die gewildste die aand, die bloukaas- en peersop. Gaste het die heerlike vars gebakte brode, olywe en olyfolies geniet. Vir soetigheid om die aand af te sluit het Nadine sjokoladekoek en sappige koeksisters voorgesit.
Sy beplan reeds aan haar spyskaart vir Vadersdag en deel solank 'n paar lekkertes soos beesstert, stampmielies en 'op aanvraag' - haar gewilde karamel patatrol. Moenie langer uitstel nie, gaan besoek DALicious. Probeer haar reeds gewilde pekanneute-tert, asook hazelnut cappucino en terwyl jy daar is, bespreek solank 'n tafel vir Vadersdag - of bespreek enige ander funksie vir hulp en bystand met Nadine.
DALicious se kontaknommer is 076 255 8828.
Eienares van DALicious, Nadine Muller, nuwe eetplek by Travellodge staan by 'n paar van die gaste wat die dag kom inloer het tydens die amptelike opening Vrydagoggend toe gaste trakteer is op heerlike versnaperings, vonkelwyn en vrugtepons.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'