HEIDELBERG NUUS - Rondlopervarke wat toegang tot die Droëkloof-stortingsterrein kry, wek toenemende kommer oor die moontlike verspreiding van ernstige veesiektes en die risiko wat dit vir die omliggende landbousektor kan inhou.
Die probleem is onder die aandag van Suid-Kaap Forum gebring deur Amanda Lai, 'n plaaslike inwoner en VF Plus-kandidaat vir wyk 9, wat die bekommernisse van plaaslike landbouers oor die rondlopervarke uitgelig het.
Die varke loop vrylik op die stortingsterrein rond en soek kos tussen die afval. Die bekommernis is veral groot in die lig van bek- en-klouseer (BKS), wat groot verliese vir die landbousektor kan veroorsaak.
Lai het gewaarsku dat varke wat besmette voedselafval eet die virus verder deur hul beweging en afval kan versprei.
"Onbeheerde toegang tot afval skep 'n wesenlike bedreiging vir omliggende landbouers en hul vee, met die potensiaal vir groot finansiële verliese," het sy gesê.
Lai het reeds die munisipaliteit se departement vir gemeenskapsdienste oor die bekommernisse genader en aangedring dat die stortingsterrein behoorlik beveilig word.
Hessequa-munisipaliteit het aan Suid-Kaap Forum bevestig dat gereelde inspeksies by die Droëkloof-stortingsterrein uitgevoer word en dat varke soms op die terrein aangetref word.
Volgens die munisipaliteit het aangrensende kleinboere op 25 Augustus skriftelike waarskuwings ontvang oor rondlopervarke wat die terrein betree. Die meerderheid het intussen hul varkhokke omhein, maar daar is steeds enkeles wat nie aan die vereistes voldoen nie.
Die munisipaliteit het gewaarsku dat huurooreenkomste met kleinboere wat nie gehoor gee nie, opgehef kan word. Enige varke wat op die stortingsterrein gevind word, sal ook geskut word.
Die omheining van die terrein word volgens die munisipaliteit gereeld gevandaliseer en die varke kry dan maklik toegang deur gate in die heining. Die herstel van die heining is reeds op die werksprogram geplaas.
Op navraag oor moontlike BKS-risikobepaling het die munisipaliteit bevestig dat geen toetse tot dusver gedoen is nie. Geen simptome van BKS is ook nog aangemeld nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’