Gallery Update Video
HEIDELBERG NUUS EN VIDEO - Piet Lotz, 'n boer van Riversdal se reusepampoen het die skaal op 532,4 kg laat kreun tydens die agtste jaarlikse Groot Pampoenfees wat Vrydag 23 en Saterdag 24 Maart op die skouterrein aangebied is.
Dié knewel is slegs 24 kg ligter as die pampoen wat die huidige Suid-Afrikaanse rekord hou. Dié rekord behoort aan Hugo le Roux wat dit verlede jaar opgestel het met 'n monsterpampoen van 556 kg.
Lotz en sy vrou Elizna is tans koning en koningin van die groot pampoene in die streek met haar pampoen wat die skaal op 438 kg getrek het.
Pinkie Swart se pampoen het 'n derde plek verseker met 365,8 kg. Hoewel Swart vanjaar 'n derde plek behaal het, het hy in 2014 en 2015 eerste plekke behaal. Sy 497,5 kg pampoen van 2014 het die vorige SA rekord gehou.
Corné van Greunen was verlede jaar se wenner met 'n pampoen van 519,5 kg.
Lotz vertel: "Ek het gehoop die pampoen wen ten minste 'n prys omdat ek 'n troue vir vandag moes uitstel. Dit is al die vierde keer wat ek inskryf, maar nog nie een van my pampoene kon oor die 300 kg merk gaan nie. Vanjaar was nie ideaal vir pampoene kweek nie en ek was effens skrikkerig dat die pampoene weereens te min sal weeg."
Adriaan Geldenhuys van Boer Soek 'n Vrou, seisoen 10 se pampoen het 279 kg geweeg. Hy het 'n 9de plek vir dié 'pampoentjie' ingepalm.
Kiara Serch (5) was ’n pampoenfeëtjie vir die dag.
Daar is pryse tot en met die 15de plek en vir die lelikste en mooiste pampoen. Die wenner stap met prysgeld van R14 000 en 'n wisseltrofee weg.
Tweede plek ontvang R7 000 en derde plek R3 500. Die man met die mooiste pampoen is Altus Joubert. Die lelikste pampoen is aan Gert van Deventer toegeken.
Lees 'n vorige artikel: Riversdaller het grootste pampoen
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'