HESSEQUA NUUS - Die uitslag van die parlementêre hersieningskomitee om voor te stel dat die land se grondwet gewysig moet word om vir onteiening sonder vergoeding voorsiening te maak, het nie vir TLU (Transvaal Landbou Unie) SA as 'n verrassing gekom nie.
Dit is luidens 'n persverklaring wat deur dié organisasie op Vrydag 16 November uitgereik is. By monde van Louis Meintjies, president, was hulle dit te wagte in die lig van die 'twyfelagtige prosesse en die emosionele opswepery'.
Hierdie voorstel beteken dat talle boere nou in twyfel verkeer of hulle nog enigsins vir die nuwe seisoen moet plant. Dit kos meer as R6 000 per hektaar om te ploeg en te plant.
Boere sal twee keer dink om daardie groot koste aan te gaan as daar 'n groot moontlikheid is dat die grond gevat kan word en hulle op risiko is om alles te verloor. "Die president van die land moet nou sê waarom boere wel behoort voort te gaan om te plant.
"Verder gaan TLU SA voort met sy internasionale veldtog en sal die VN se menseregtekommissie die einde van die maand ingelig word dat die Suid-Afrikaanse regering sy grondwet wil wysig om grond van sy onderdane te steel, terwyl die Suid-Afrikaanse boere hulle grond wettig bekom het."
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'