Veritas Aequitas van Riversdal skryf:
Jongste begrotingsvergadering van die raad verwys:
Ek het onlangs die begrotingsvergadering van Hessequa-munisipaliteit bygewoon. Ek was tevrede met die syfers wat vir die 2024-boekjaar voorgelê is.Wat die vergadering egter versuur het, was die omstrede stellings wat raadslid Chris Taute kwytgeraak het, veral rakende die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW).
Volgens sy repliek het hy beweer dat die weermag vroue en kinders vermoor het. Hierdie is niks anders as ongetoetste aannames en verbeeldingsvlugte nie. Propaganda. Politiek is gebruik om die koeie uit te grawe.
Ons oud-soldate moes destyds die Geneefse Konvensie onderteken het dat ons geensins burgerlikes sou aanval nie. Sulke vergrype sou onmiddellik tot 'n krygraadsverhoor lei.
Die probleem met mense soos Taute is dat hulle die klok hoor lui het maar weet nie waar die bel hang nie. Ons oud-soldate wat daar was weet wat werklik gebeur het en beskik oor al die feite. En 'n saak het mos altyd twee kante.
Sulke items en besprekings hoort glad nie op 'n raads-agenda nie en wyk in elk geval af van die hoofdoel waarvoor die vergadering belê is.
'n Verdere mosie wat Taute ingedra het, is sy versoek dat die Hessequa-raad R250 000 moet skenk aan die vroue en kinders van die Palestyne wat honger ly in die konflik tussen Hamas en Israel. Bid jou dit aan!
Die eerste vraag wat opduik is wat het Hessequa met die oorlog in die Midde-Ooste te doen? As Taute werklik in voeling is met sy gemeenskap was sou hy nie só 'n onsinnige en dwase voorstel ingedien het nie.
Gelukkig het 'n ANC oud-lid hom reggehelp en genoem dat die behoefte in Hessequa, en veral in Kwanokuthula, voorkeur moet kry. U ken tog die spreekwoord wat sê: “Charity begins at home."
Dis eintlik verstommend dat 'n gesoute raadsheer soos Taute sy eie mense se dringende behoeftes wil negeer en belastingbetalers se geld wil gebruik om die Palestyne by te staan. Dis seker niks anders as 'n kruiperige poging om by sy ANC-meesters, wat die Palestyne openlik ondersteun, in te val nie.
Wat egter tragies is, is Taute se onvermoë om te kan prioritiseer en sy onwilligheid om die nood hier ter plaatse raak te sien en aan te spreek.
(Daar is seker lank laas soveel onkunde en gekheid gesien in een voorstel soos dié van Taute waarin hy vra dat belastingbetalers se geld gebruik moet word om kos aan Palestynse vroue en kinders te voorsien. - Red.)