Bekommerde inwoner van Stilbaai skryf:
Op Stilbaai word alle honde tans nie voldoende beheer nie (in lyn met munisipale ordonnansies en landswette) met gevolglike onnodige beserings - fisiek en emosioneel en natuurlik ook onkostes.
Terwyl ons in Pretoria gewerk het, het ons vanaf 1991 eiendom in Stilbaai besit. Ons het meestal vir ongeveer drie weke in 'n jaar na Stilbaai gekom. Gedurende daardie periodes het ons die omgewing as baie veilig ervaar en het gereeld met ons klein honde, aan halsbande, en kinders (later kleinkinders ook) rondgeloop.
Ná aftrede het ons besluit om ons voltyds hier te vestig, gebaseer op die jare se ondervinding van veiligheid en goeie munisipale dienste.
Ons het mettertyd gevind dat daar al hoe meer groter honde teenwoordig was, en dat honde nie altyd beheer word deur hekke toe te hou en buite aan halsbande te loop nie.
Onlangs het ek en my vrou met ons klein hondjie (aan 'n halsband) 'n onaangename en onnodige ondervinding in Oesterlaan gehad.
Ons het die swart bulterriër (varkhond) uit sy erf sien kom en hy het direk op ons afpyl. Ek het hom probeer terugjaag en weghou van my vrou en ons hond. Hy was beslis doelgerig en het hoofsaaklik vir ons hond gegaan.
Ek kon hom nie keer met skoppe en slaan met die loopstok nie - hy het hom nie daaraan gesteur nie. Ons hond is lelik seergemaak en ek het wonde aan my hande en gesig opgedoen.
Gedurende hierdie periode, wat gevoel het soos 'n leeftyd, het ek op die hond geskreeu, en my vrou het heeltyd om hulp geroep. Nie die eienaar of enigiemand anders het daarop gereageer nie.
Ons het al bakleiend en skreeuend, na die hond se eiendom beweeg en 'n bakkie in die oprit sien staan. My vrou het geskreeu dat ek ons hond in die agterbak van die bakkie gooi, weg van die gevaarlike varkhond, wat sy aandag op ons hond gevestig het.
Ek het na die sekuriteitshek by die voordeur gegaan en hard daarteen geslaan terwyl ek die huis in (deur die oop voordeur) gegil het vir aandag.
Die eienaar, plus sy kuiergas, het ná 'n ruk verskyn.
Die eienaar het gesukkel om sy hond te beheer en het hom by die huis ingedra.
Die twee mans was glad nie akkommo-derend nie. Die kuiergas het gesê ons moet na sy dokter en veearts gaan en die rekening vir hom stuur.
Toe ek vir hom sê dat dít nie goed genoeg is nie, was sy stelling: "Nou wat wil jy meer hê?" - waarop ek geantwoord het dat ek wil weet wat die eienaar gaan doen om dit in die toekoms te voorkom.
Daar is heelwat ou mense wat met hulle honde loop, wat nie 'n kans sal hê teen so 'n aanval nie. Ek het in daardie stadium redelik aan skok gely en nie besef hoe bebloed my gesig was nie.
Agterna het ek gedink daaraan dat hulle nie eens aangebied het om my by 'n dokter te kry nie en ook nie gevra het hoe dit met ons hond gaan nie. Volgens hulle optrede lyk dit of hulle glo in "geld wat stom is, maak reg wat krom is." Geen simpatie van hulle kant af nie.
Ironies genoeg, terwyl ons huiswaarts strompel, loop ons verby 'n grassnyerdienste se voertuig met almal wat net sit en na ons kyk.
Hulle moes die voorval sien gebeur het, maar het geen poging aangewend om te help nie.
Ek is na my dokter toe vir die nodige behandeling, skoonmaak, ontsmetting, steke en verbande, wat 'n tetanusinspuiting én antibiotika ingesluit het. Ons hond het intensiewe behandeling ontvang met steke op verskeie plekke. Hierdie onkostes het ongeveer R4 000 beloop, sonder om die skade aan my klere in ag te neem.
Die impak was nie net fisiek nie, maar ook emosioneel.
Daarna kon ons hond nie met gemak gaan loop nie. Sy het na 'n entjie se stap omgedraai en met platgetrekte ore gedryf om by die huis uit te kom. Ons het probeer om per voertuig 'n ent te ry tot nader aan die rivier, weg van die varkhond se tuiste en dan te gaan stap.
Sedertdien is ek paranoïes; Ek kyk heeltyd of 'n hek oopgelaat is, of 'n hond sonder leiband is; of die hond in sy erf oor die heining kan spring; en indien 'n hond op weer ons afstorm, wat is die beste plek om sy aanval net van een kant af te weer.
Ons het die saamloop glad nie meer geniet nie. Die uiteinde is dat ons hond nie meer op stappies geneem word nie.
As ek en my vrou alleen gaan stap, is ons "gewapen" met 'n loopstok, 'n skokstok en pepersproei (eersgenoemde twee is natuurlik glad nie effektief teen varkhonde nie). Ons kan nie bekostig om op ons ouderdom deur 'n hond verniel te word net omdat die eienaar nie voldoende beheer uitgeoefen het nie.
Hierdie ondervinding het dus verskeie blywende gevolge op ons. Hoeveel ander mense het nie hierdeur gegaan nie? Dit is totaal onregverdig en onaanvaarbaar.
Moenie my verkeerd verstaan nie. Ek het nog altyd van honde gehou. In ons geval blameer ek nie die hond nie - eerder sy eienaar wat nie die nodige sorg getref het nie. Honde, veral grotes, kan gevaarlik wees, veral teenoor ander honde (instink). Indien jy as die slagoffer-hond se eienaar haar probeer help, kan jy ook lelik daarvan afkom.
In ons geval was die belangrikste om die nodige behandeling te kry en te probeer om terug te keer na normaliteit - wat onmoontlik is.
Aangesien ek verkies om pro-aktief te wees, het ons onsself "bewapen" met die nodige. Maar wat van ander mense wat nog dink dat dit veilig is om met jou hondjie te gaan stap?
My pro-aktiewe voorstelle:
1. Maak bekend die gevare van honde wat nie beheer word nie in die media (Suid-Kaap Forum, sosiale media, Hessequa-nuusbrief).
2. Wetlike aspekte, wat insluit munisipale ordonnansies, aangaande beheer van honde - weer eens in die media bekendstel (waar kom SAPD in?).
3. Wat is die beste verdedigingsmeganismes teen aggressiewe honde (en ook teen ander aanvallers) wanneer jy gaan stap?
4. Databasis by die munisipaliteit van plekke was óf as gevaarlik of as veilig beskou word.
5. Munisipaliteit, SAPD, Gemeenskaps-forum, buurtwag ens. wat oplet en teregwys - of beboet.
My reaktiewe voorstelle:
1. Gebruik van verdedigingsmeganismes.
2. Help mense in nood.
3. Waar om te rapporteer.
4. Mediese hulp.