Ek wil graag 'n saak wat nou al lank aankom onder Suid-Kaap Forum se aandag bring - die gebrek aan 'n netwerk (Vodacom & MTN) sedert Vrydag 2 Junie.
Gouritsmond sukkel op 'n gereëlde basis met 'n onbetroubare netwerk. Heel moontlik sukkel Vleesbaai ook.
Ons het sedert Vrydagoggend geen sein gehad nie en 'n selfoon was nutteloos. Slegs noodoproepe kon gemaak word.
Inwoners moes uit die dorp ry op soek na 'n sein. Die situasie het die hele naweek voortgeduur.
Besighede is afhanklik van netwerke en heelwat mense werk ook van die huis af. Nodeloos om te sê dat alles tot stilstand gekom het.
Laat Maandagmiddag het ons 'n wankelrige sein gehad en die situasie het Dinsdag steeds voortgeduur. Daar is met tye swak tot geen sein nie, om nie eers van WiFi te praat nie.
Ek hou maar duime, tone ensovoorts vas in die hoop dat dié e-pos jou wel bereik.
(Dié e-pos het ons inderdaad bereik mev. Kroucamp en ons gaan ons bes probeer om 'n antwoord uit òf Vodacom òf MTM te kry. Dit kan 'n hele ruk duur - red.)