Die boodskap in aanhalingtekens hieronder het ek op 20 Mei op die Gouritsmond Groep/ Group se Facebook-blad geplaas (ek is die admin op die groep).
So gou soos twee weke later is ons sedert Vrydag 2 Junie weer sonder sein. Tans vyf dae aaneen en steeds sonder sein. Sedert Dinsdagoggend is daar 'n MTN-sein, maar steeds geen Vodacom-sein nie.
"Die Vodacom-selfoontoring aan Kanonkant van die rivier wat Gouritsmond bedien, is alweer die heeldag af. (Die toring bedien ook ander selfoonnetwerke).
Dit het nou al omgesit in kronies af en so sit inwoners en besoekers aan Gourits al weer heeldag sonder 'n selfoonsein.
Soos altyd wanneer dit gebeur, kry jy soms 'n kort flou sein vanaf die Aasvoëlkop-toring ongeveer 25 km verder naby Albertinia. Die betrokke toring, wat ook onder dieselfde beurtkragskedules val, gaan wonderbaarlik nooit af nie en gee altyd 'n sein."
Dit blyk dat die betrokke Kanon/Grootrug Vodacom-toring, afgeskeep word en nie in stand gehou word nie. Daar is ook vraagtekens oor sy kapasiteit aangesien daar Desembermaande ook baie swak sein is wanneer baie besoekers Gourits besoek.
Indien hierdie tendens eenmalig is, kan mens daarmee saamleef. Dit gebeur egter nou al periodiek vir bykans twee jaar.
Gourits het baie afgetrede inwoners. Mens kan dink watter effek dit kan hê indien 'n noodsituasie by huishoudings sou ontstaan. Die besighede word vanselfsprekend ook erg geraak en dan praat mens nie eers van besoekers aan Gourits nie.
Ek rig die skrywe aan Suid-Kaap Forum want dit blyk dat die toring net altyd tydelik "gelap" word en permanente deurlopende onderhoud en of opgradering van die toring nie 'n prioriteit vir selfoonnetwerke is nie.