STILBAAI NUUS - “Stilbaai is ’n toeristebestemming, verblyf is bekostigbaar en skrywers en gespreksleiers kom graag hierheen om deel te neem aan ’n fees waar die Afrikaanse boek pronk,” sê Elna van der Merwe, 'n veelsydige joernalis en boekeredakteur by verskeie publikasies.
Sy is ook die organiseerder van Stilbaai se vierde boekefees, wat Vrydag 21 Februarie begin en tot Sondag 23 Februarie duur.
Altesaam dertig woordenaars gaan feesgangers oor drie dae met die alfabet betower.
Die gemeenskap van Melkhoutfontein word vanjaar met 'n spesiale aanbieding bederf. “Die skrywer en opgeleide nar Sjaka S Septembir bied sy vertoning Los uit, Stinkie! hier aan. Dit is gemik op kinders van vyf tot nege. Hoewel dit vol pret is, gaan die boodskap oor die privaatheid van ’n kind se lyfie.
Veral Graeme Cuttings, die skoolhoof, sien uit na dié vertoning in sy splinternuwe skoolsaal. Daar is plek vir 800 mense.
Elna sê haar doelwit is bloot om boekliefhebbers aan die trots van die Afrikaanse skryfkuns bekend te stel. Daar word gespog met trefferboeke en kreatiewe skrywers en ons fokus op splinternuwe, oorspronklike werke wat die skrywerslandskap die afgelope twaalf maande verskuif en verruim het.
Vrydagoggend begin met 'n ete by Oudewerfkloof en 'n resepteboekbekendstelling. By die Melkhoutfontein Primêr-skoolsaal leer die skrywer en nar Sjaka S. Septembir deur middel van sy produksie Los uit, Stinkie! die kleingoed oor gesonde grense.
En dan gesels 'n gevierde fotograaf, professore en doktore, digters en ander woordenaars oor daardie onsienlike deur na die ongehoorde.
Saterdagoggend begin met koffie, toebroodjies, glutenvrye piesangbrood met neutbotter en ’n jogurtkelkie.
Daarna stel ons vas waarom sekere akademci saam op dieselfde verhoog sit. Die fyn kuns tussen kinder- en jeugstories word geskaaf en 'n krimi-koningin onthul plotontknopings.
Soetgegeur, kan jy dan deel in skryf- en skilderkreatiwiteit onder een dak, waarna die kuns van vertaling só beloer word dat jy nie eens sou weet wat die oorspronklike taal is nie!
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’