STILBAAI NUUS - Letters, woorde, sinne, paragrawe en hoofstukke kry klánk in boeke wanner dertig woordmakers dié naweek hul stem aan hul skrif verleen.
Vanoggend het die media-persoonlikheid Ingrid Jones die sjef en skrywer Elmarie Berry oor haar nuutste kosboek, The Table, en Sumien Brink, die voormalige redakteur van leefstyltydskrifte, oor die maak van kosboeke by Oudewerf tafel toe gebring, terwyl feesgangers aan 'n heerlike ete gesmul het. Al die kaartjies is verkoop; g’n muis sou 'n stukkie kaas kon hap nie...
Intussen het die skrywer, digter, akteur, regisseur en nar Sjaka S. Septembir sy opvoedundige hansworsteryproduksie Los uit, Stinkie! – oor gesonde grense - by die Melkhoutfontein Primêr-skoolsaal aangebied.
Nou skuif die woordbetowering na Stilbaai se gemeenskapsaal.
Vanmiddag om 14:00 praat die gevierde fotograaf Obie Oberholzer oor sy nuutste spogboek Going Dutch: Nine towns with Dutch names in South Africa and their namesakes in the Netherlands.
Om 15:00 bespreek prof. Louise Viljoen die bundel Kinderlê (die tweede bundel van Lynthia Julius), ’n vorige wenner van die Jan Rabie Marjorie Wallace-skryfbeurs en nou’n dosent in skryfkuns aan die Sol Plaatje-universiteit in Kimberley.
Om 16:30 lees die digters Dominique Botha (Donkerberg), Lynthia Julies (Kinderlê) en Danie Marais (Ek en jy bestaan nie) uit hul bundels voor.
En dan: om 18:00 gaan omstrede kwelkwessies die alfabet laat vlamvat!
Die puik ondersoekende TV-aanbieder Waldimar Pelser, 'n voormalige koerantredakteur en deesdae die direkteur van premiumkanale by 'n multimediagroep, lei 'n gesprek oor brandpunte, knelpunte én goeiepunte.
Die paneellede is die onafhanklike politieke kommentators Qaanitah Hunter, Dawie Boonzaaier en dr. Piet Croucamp - 'n kernbek wat reguit en prontuit looi, selfs politieke korruptes, burgerlike verkramptes en soortgelyke “heiliges” tot verantwoording roep en aanspreeklikheid van stommerikke eis. Pelser sê: “Soms help afstand 'n mens om 'n beter perspektief op groot gebeure gekry. Daarom is dit lekker om weer in die mooie Stilbaai te gesels oor die bepalende verwikkelinge in ons politiek.”
Hy sê hulle kom dalk aanstaande jaar weer, maar: gaan die regering van nasionale eenheid dan nog regeer?”
Die span beloer die R van SA en vra: waarom jou burgerskap afsweer, landuit vlug en by Donald Trump in Amerika gaan skuil?
Intussen het die vuur buite kole laat gloei en nou gaan die vonke verder spat. Om halfsewe word daar word wors gebraai (met uie en tamaties gesmoor), slaaie geskep en drankies geskink. Feesgangers kan by die kontantkroeg saam met die kundiges sletsopies oor die politieke platpote se vere stort...
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’