STILBAAI NUUS - Musiekliefhebbers gaan die jaar afskop met 'n spesiale liefdadigheidskonsert deur die wêreldberoemde sopraan, Johanni van Oostrum.
Sy het op Stilbaai besluit vir dié konsert omdat haar ouers woonagtig is op die dorp. Die netto opbrengs van die konsert gaan geskenk word aan Jagersbosch Gemeenskapsorgsentrum en die Hartliefklas van Laerskool Bertie Barnard. Eline Troskie, Johanni se suster tree die aand saam met haar op. Eline is 'n sopraan en solokunstenaar in eie reg met 'n merkwaardige solo sangloopbaan in Suid-Afrika. Janny Lobbezoo sal optree as begeleier vir die twee talentvolle sussies.
Van Oostrum is woonagtig in Nederland, maar het haar opleiding ontvang van 'n bekende in operakringe, Miemie Coertze en was ook 'n lid van die Black Tie Opera Studio.
Haar debuutrol as Elsa in Lohengrin in die Deutches Nationalteater was met groot entoesiasme en akklamasie begroet deur die pers. Sy het ook haar operageselskap- debuut gemaak in die Bavariese Staatsopera in Munchen as la Contessa in die Huwelik van Figaro onder die stok van Ivor Bolton.
* Die konsert vind plaas Vrydagaand, 23 Januarie om 19:30 in die NG Kerksaal-Oos op Stilbaai. Kaartjies kos R60 vir lede en R80 vir nie-lede en kan bekom word by Cupz Cafe in die Fynbossentrum of by die deure.
