RIVERSDAL NUUS – “Ons moet die betekenis van vreugde, geluk, plesier en tevredenheid vier!” Dit was die versoek van die kunsliefhebber Elna van der Walt.
Sy het daardie versoek aan die internasionaal-erkende skilder Marilise Lombard-Mentz gerig. “Elna is ‘n vurige ondersteuner van my kuns. Ek het onmiddellik ingestem en ‘n versameling uit my werke gekies,” sê Marilise.
Die titel van die uitstalling was: “Meaning of Joy."
Elna het haar kunssinnige woning in ‘n stylvole tuisgallery omskep en talle van die streek se inwoners het ingeloer om in dié kleurryke uitbeelding van grenslose kreatiwiteit te deel.
Marilise sê: “Elke prentjie vertel ‘n storie. My inspirasie vir elke storie is die mense en dinge rondom my. Dis al so deel van my menswees om goetertjies rondom my raak te sien wat ek dalk kan gebruik in my kuns. Soos mos op ‘n muur, skulpies op die strand, kleure in 'n rots, vrolikheid van kinderlaggies en musiek. Dit is álles 'n geskenk uit God se hand! Ek lief helder kleure, blomme en diere: alles wat nie kunsmatig en opgesmuk is nie.... Ek vind vreugde in die eenvoud van die kleinste dingetjies...”
Marilise se kunswerke kan die res van die jaar hier besigtig word:
* Inheems-uitstalling by die burgersentrum in Augustus in Riversdal.
* Fragmente van waarheid - saam met Anita MacLaughlin by die Fouriehuis tydens die Hessequa-Harmoniekunstefees in September in Heidelberg.
* More than life-uitstalling in Riversdal by haar eie gallery in Oktober.
* Mengelmoeskardoes - as deel van die Paddavlei Kuns Kidz-uitstalling in November by haar eie gallery in Riversdal.
En by die jaarlikse Hessequa-kunsroete-uitstalling in Stilbaai.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’