VERMAAK NUUS - ’n Onverwagse mengelmoes van alternatiewe teater en talent, in hoogs geheime optredes van 15 minute elk.
Dít is wat op feesgangers wag in hierdie jaar se Lucky Pakkie-aanbod by die 28ste KKNK, geborg deur Absa, van 23 tot 31 Maart in Oudtshoorn.
“Lucky Pakkie-teater het iets vir almal se smaak. Dit werk nes die lucky packets waarmee jy grootgeword het - die inhoud is hoogs geheim. Ons het ver en wyd gesoek om ’n program van 12 Lucky Pakkies-optredes saam te stel, met elemente van drama, komedie, kabaret, sang, mimiek en ander verrassings,” sê Llandi Beeslaar, kurator van Lucky Pakkie.
Volgens Beeslaar word drie verskillende Lucky Pakkies aangebied.
Melkbaard is nie noodwendig kinderteater nie, maar word as gesinsvriendelik aangebied (daagliks 11:00), terwyl ouerbegeleiding vir Sagtebaard aanbeveel word (daagliks 14:00) en Hardebaard ’n ouderdomsbeperking van geen onder 16 het (daagliks 17:00).
“Vir die kere wanneer jy in Oudtshoorn by die KKNK sit en nie anders kan as om te voel daar is ’n jeuk wat nog nie ordentlik gekrap is nie.
Jy is in die mood vir iets buitengewoon, iets met ’n bietjie flavour, maar wil nie noodwendig commit tot ’n vertoning van 70 minute in ’n teater nie. Lucky Pakkie is die perfekte kuur vir daardie kwaal”, sê Beeslaar.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’