STILBAAI NUUS - Stilbaai se vierde Boekefees loop vandag (Saterdag 22 Februarie) ten einde.
Die eerste gespreksessie begin om halftien en word afgesluit met die skrywer Frederik de Jager wat om kwart oor vier laaste aan die beurt kom.
Vanoggend om agtuur al is daar stomende koffie, 'n verskeidenheid reënboog-toebroodjies, glutenvrye piesangbrood met neutbotter en ’n jogurtkelkie op die ontbytspyskaart.
Halftien word bespiegel oor waarom die twee doktore - Marié Heese (Die laaste dae) en Jolyn Phillips (Bientang) - saam op een verhoog is. Is daar dalk ook ánder ooreenkomste? Renée Conradie gaan delf.
Ná dié spontane openbaring van onopgesmukte kennis en deernisvolle menslikheid, pols die boekeresensent Elna van der Merwe, wat ook die sameroeper van die Stilbaai-woordfees is, die kinder- en jeugboekskrywers Wendy Maartens en Riana Scheepers oor die fyn kuns van dié skryfgenre om halfelf.
Kwart voor twaalf tik die horlosie in afwagting, want die krimi-skrywers Irma Venter en Elizabeth Wasserman gaan 'n aantal plotontknopings aan die geliefde aktrise Susanne Beyers onthul; dalk ook oor hóé om nié van 'n lyk ontslae te raak nie...
Klokslag eenuur is dit middagete; inkpot toe en penvere neer.
Daar’s keuses tussen lasagne en groentekerrie; bedien met twee vullende slaaie. Daar’s koek ook, vir nagereg.
En dan, tweeuur die middag kom woord en verf onder die loep wanneer die kunstenaar-egpaar, die skrywer Ingrid Winterbach (Onrus op Steynshoop) en haar skilderkunsman Andries Gouws met prof. Louise Viljoen oor hul kunstenaarslewe sáám gesels en die uitdagings, die kreatiewe ooreenkomste, die onvermydelike verskille en die samebindende begeestering verken.
Drieuur deel die mediapersoonlikheid Ingrid Jones die verhoog met die skrywer Jeremy Vearey (Rooisand) en Kirby van der Merwe wat sy debuutroman is naatlose, oorspronklike Afrikaans vertaal het. Jeremy Vearey is bekend om 'n verskeidenheid nie-fiksieboeke. Die Daily Maverick beskryf hom só: “An activist, teacher, gang-buster, top cop with the heart of a poet.”
Kwart oor vier neem die skrywer Frederik de Jager mikrofoon oor in gesprek met 'n oud-bankman en 'n wynmaker; albei met Stilbaai-bande. Hy gesels met PJO Jonker (Die onsigbare) en Pieter Marais (Konkel) oor hul uiteenlopende debuutromans wat reeds opspraak gewek het.
Dié drietal gaan bespiegel oor “onnugterdenkenheid, onsamehangendheid, ontoereikingsvatbaarheid en die oomblik van saligheid wat in Stilbaai se soutlug uitgelap word.”
Is daar antwoorde in die doolhowe van gedagtes in 'n konkelwêreld vol onsigbaarheid te vind?
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’