SUID-KAAP NUUS - 'n Skrywer skryf nie 'n boek met die doel of die hoop dat dit 'n rolprent sal word nie, maar as dit gebeur is dit soos 'n droom. So sê een van die land se bekendste skrywers, Annelie Botes, na aanleiding van die verfilming van haar boek Raaiselkind.
Die Oudtshoorn Courant het die afgelope naweek in Plettenbergbaai met Botes gesels. Sy was op pad Kaap toe om die Silwerskermfees hierdie week by te woon waar die première van Raaiselkind vertoon gaan word.
Raaiselkind was Botes se vyfde boek en is in 2001 gepubliseer. Die boek het reeds meer as 35 000 kopieë verkoop en is in Engels en Nederlands vertaal.
Die boek vertel die storie van 'n ma en haar 9-jarige outistiese seun, Alexander, en hoe hulle deur 'n oorwegend Christen-gemeenskap op die platteland verstoot word. Die seun word dood in 'n bad met water aangetref, maar die nadoodse ondersoek bevind hy het nie verdrink nie.
"Alhoewel dit die storielyn is, is die dieperliggende tema van die boek die wyse waarop mense hulle as goeie Christene voorgee, maar diegene wat nie by hulle inpas nie, verstoot totdat hulle randfigure sonder enige ondersteuningsmeganisme word," sê die skrywer.
Botes se navorsing oor outisme en die wyse waarop sy dit in Raaiselkind weergee is so eg dat sy in 2003 na Nederland genooi is as gasspreker by 'n wêreldsimposium oor outisme.
Die boek is in 2004 deur Saartjie Botha as toneelstuk verwerk wat by die KKNK en verskeie ander feeste opgevoer is.
Die bekende aktrise en nou ook filmmaker, Sally Campher, het die boek gelees en verlede jaar met Botes onderhandel oor die filmregte. Oor die rede vir die rolprent het Campher hierdie week gesê: "Wanneer jy so 'n projek aanpak is dit belangrik om te weet hoekom, want hierdie 'hoekom' raak jou belangrikste motivering wat jou deur die proses dra. My hoekom is om 'n bewustheid te skep van waardeur gesinne met kinders op die spektrum van outisme kan gaan (óf enige versteuring), want 'n bewusmaking gee kennis, kennis laat jou beter verstaan en as jy verstaan kán jy 'n verskil maak."
Botes het die naweek gesê Campher se man, Pieter Esterhuizen, broer van Willie Esterhuizen, het 'n puik draaiboek geskryf waaraan sy omtrent niks moes verander nie.
Die hele rolprent is in minder as 'n maand in Arniston geskiet en word Woensdagaand vir die eerste keer aan 'n gehoor vertoon. Dit begin op 16 Februarie 2018 in rolprentteaters draai.
Sedert Raaiselkind het Botes nog agt boeke die lig laat sien.
Haar boek wat spog met die beste verkope is Thula-Thula wat reeds meer as 40 000 kopieë verkoop het. Haar jongste boek, Lugkastele, wat verlede jaar verskyn het, was vir die eerste helfte van 2017 die tweede beste verkoper van Afrikaanse boeke in die land.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'