Die produksies is beide aande in die Duivenhoks Gemeenskapsaal deur 'n vol saal met waarderende gehore bygewoon. Verskeie welbekende kunstenaars en sangers, waaronder Heidelberg se eie Neil Rademan, Zanne Stapelberg, Fancy Galada, Camilo Lombard (klawerbord), Donveno Prince (saksofoon), Kaapstad Ballet se ballerinas Dance For All, Bongani Sotshononda en sy marimbagroep en die immergroen Alistair Izobell, wat ook as seremoniemeester opgetree het, het 'n onvergeetlike vertoning aan die toeskouers gebied.
Die optrede van die plaaslike streeks- en ook dié van die blaaskoor, Young Royal Shepherds, moét genoem word wat die gehoor verras het met hul uitstaande kwaliteit van sang en musiek.
Beide het groot lof en erkenning ontvang van rdl Emor Nel (uitvoerende burgemeester: Hessequa Munisipaliteit) en Marlene le Roux (KunsteKaap: direkteur Gehoor Ontwikkeling en Onderwys).
Nel het namens die munisipaliteit geskenke van waardering aan Le Roux, Charles Banjatwa (KunsteKaap dirigent, die verskeie kunstenaars van KunsteKaap en die departement Kultuur en Sport: Wes-Kaap, oorhandig.
Die openingsaand is voorafgegaan met die Burgermeesters skemerkelkie in die banketsaal van die stadsaal.
Buiten die opvoerings het KunsteKaap, in samewerking met die departement Kultuur en Sport: Wes-Kaap, asook die munisipaliteit na skole in die streek uitgereik deur werkswinkels en opleiding aan leerders te verskaf.
Tydens dié sessies is menige talentvolle leerders geïdentifiseer. Le Roux en Banjatwa het ook die koor aangemoedig om as 'n streekskoor voort te bou op die produksie.
Klik hier vir 'n vorige nuusflits.
Klik hier vir 'n fotogalery.

Rdl Emor Nel verkeer in ’n gesellige luim met Thabo Makgolo, Marlene le Roux, Johan Coetzee (kantoor van Wes-Kaap minister van Kultuur en Sport) en Hannatjie du Preez (direkteur: Sport en Kultuur) tydens die skemerkelkie.
ARTIKEL: WILMA ADAMSON, SUID-KAAP FORUM-REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'