HEIDELBERG NUUS - Skole en teatergroepe word uitgenooi om aan die jaarlikse Goliath Davids/Hessequa-toneelfees op die dorp deel te neem.
Nadat die Goliath Davids Legacy Project die fees verlede jaar begin het, het dit enorme belangstelling vanuit teatergeledere gelok. Die werk wat die projek doen om 'n liefde vir toneel by die jeug te kweek is van onskatbare waarde, omdat dit akteurs en gehore vir die toekoms verseker. Geleenthede word vir jong kunstenaars geskep en bied aan hulle 'n platform vir voldoende blootstelling - wat die toekoms van die industrie is.
Die toneelfees vind vanaf 2 tot 7 Oktober plaas en beloof om opwindende produksies te bied. Skole van oral het reeds aansoek gedoen om deel van hierdie 'genotvolle' produksie te wees.
Die suksesstories, asook die ontwikkeling wat dit teweegbring is verweef in die liefde vir Afrikaans en drama/toneeluitvoerings as kunsvorm. Kinders en jeugdiges uit verskillende gemeenskappe word bymekaar gebring om eg Suid-Afrikaanse stories te vertel en beloof om inspirasie te bied, maar ook om toneeluitvoerings uit 'n ander oogpunt te beskou.
Aansoeke vir die fees sluit op 31 Augustus. Skole en teatergroepe word aangeraai om vroegtydig aansoek te doen. Die teaterlegende Wim Vorster is aan die stuur van sake, met behulp van kundiges soos Charlotte Cellie, William Michaels en Lloyd Davids.
Vir meer inligting, aansoeke, registrasies en navrae: Lloyd Davids, 081 044 2300 of skakel die kantoor by 023 342 8458.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'