Met groot verrassing het hy, nadat hy stelling voor die klavier ingeneem het, 'Happy birthday to you' gespeel vir die oudste lid van die Stilbaai musiekvereniging, me. Ena Fourie wat in die voorste ry gesit en die aand van die konsert haar 93ste verjaarsdag gevier het.
Na afloop van die konsert het die musiekvereniging 'n skenking van R5 000 aan Prins gemaak om aan te wend wanneer hy later vanjaar vertrek na die Cleveland Institute of Music in Amerika om sy studies voort te sit vir Mmus en hopelik sy doktorsgraad.
Gebalanseerde program
Sy program was goed gebalanseer met 4 groot werke, onderbreek deur 'n pouse. Hy het begin met JS Bach se Chromatiese Prelude en Fuga. Veral die fuga was besonder goed gefraseerd en die part-spel uitstekend hanteer, hoewel soms effens te sentimenteel. Die uitstaande werk van die aand was die Etudes van Chopin, Opus 25.
Pouse
Na die pouse is L v Beethoven se Sonate opus 111 gespeel, een van die minder bekende en dramatiese werke en 'n goeie kontras met die vorige items. Die finale werk was die van J Brahms, Variasies op 'n tema van Paganini, (Opus35, Boek 2). Hierdie werk is tegnies 'n groot uitdaging vir enige pianis. As 'n toegif het hy 'n liefdeslied gespeel van 'n onbekende Tcheggiese komponis, Josef Sut. Strelende melodieë met verminderde sewendes het 'n 'bittersoet ' weerklank gevind. Met effens meer selfvertroue, beter houding en postuur voor die klavier en rapport met die gehoor kan hy sy voordrag vervolmaak.
Stilbaai Musiekvereniging is trots op hom en hou met groot belangstelling sy loopbaan dop. Dit was 'n besondere voorreg om hom hier te kon hoor.

Op die foto verskyn saam met die lede van die musiekvereniging bestuur van links Mike Steytler, Louise Steytler, Megan-Geoffrey-Prins, dr. Marian Smit, Euchi Yazbek, Danie Joubert en Nugget van Noordwyk.