HESSEQUA NUUS - In die Hessequa-streek is daar bykans geen blootstelling aan die kreatiewe kunste nie en is werksgeleenthede baie skaars.
Die nasionale projek van werkskepping vir assistente by skole het vir die Rural Arts Network (RAN) 'n ideale geleentheid geskep om deel van ontwikkeling te wees en so 'n verskil te maak.
Dit het tot die stigting van die Jeugopleiding- oftewel JOP-projek gelei, wat deur Betsie Ryke, Reagan Diedericks en Inge Combe onderrig word.
Daar is tans ses jongmense in die groep. Hulle was tydens hul skoolloopbane reeds deel van die RAN-musiekprojekte en dit was dus 'n natuurlike uitvloeisel om hul verder deel te maak om die kreatiewe kunste in die platteland te help bevorder.
Die program behels die aanleer van uitgebreide kreatiewe vaardighede, aangesien hulle reeds 'n agtergrond en belangstelling in musiek het.
Ryke, projekbestuurder van RAN het die geleentheid raakgesien, sodat hulle die musiekopleidingsprojekte self sal kan aanbied. Die musiekwaarderingsprojek is seker een van hul gewildste en suksesvolste programme by die skole. Kinders floreer met die blootstelling aan uitvoerende kunste. Selfs die beluistering van klassieke musiek vind by die kinders aanklank.
Deel van die groep se ontwikkeling en opleiding is om as 'n marimba-orkes op te tree. Niël Rademan, teatermaker en musikus, en Ryke het al voorheen met groot sukses saamgewerk. Die groep kom Saterdag, 25 September tydens die piekniekkonsert by die Dasjesdrift-teaterhuis optree.
"Ons is baie opgewonde oor die geleentheid wat Niël deur die Hessequa Harmonie in Heidelberg aan ons bied. Dit bied wonderlike blootstelling op vele vlakke aan ons groep," het Ryke gesê.
Stanley Davids en Kevin Diergaardt van die Jeugopleidingsgroep besig om hulle voor te berei.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'