Botha, wat vir meer as 25 jaar 'n nou band met Cussons gehad het, het op 'n insiggewende wyse staaltjies gedeel, toegelig met gedigte wat intussen deur verskeie kunstenaars getoonset is.
Haar Meestersgraad handel juis oor Cussons en is sy goed vertroud met die mens, die vrou, die digter, die kunstenaar.
Volgens haar was Cussons 'n eenmalige figuur in Afrikaanse letterkunde en word sy somtyds vergelyk met TS Elliot. "Sheila Cussons was die eenvoudigste, mees intellektuele reus met geen ego. Sy was 'n groot Christen, maar het wel 'n moeilike lewe gehad.
Sy was altyd positief en het nooit in oordeel van ander gestaan nie". Sy was ook 'n mooi en bye tye baie gewilde vrou, alhoewel sy dit nie besef het nie, vertel Botha.
"Sy het geglo sy was gemerk vir avontuur met Christus en het dit haar spektrum en grootheid van haar digterskap intiem geraak". Haar vriendskap as NP van Wyk Louw se Muse was volgens Botha 'n liefdesverhaal wat geëindig het op 25 November 2004 toe Cussons op 82 jaar oorlede is.
Sy het meer as 11 digbundels gepubliseer. Sy ontvang die Ingrid Jonker Prys in 1970, Eugene Marais Prys in 1971, WA Hofmeyr prys drie keer; 1972, 1982 en 1991, die CNA prys in 1981, Louis Luyt prys in 1982 en die prestige Hertzog prys in 1983.
"Alles werk in op mekaar. Die woord en die beeld, die beeld en die woord. Hulle voed mekaar en is ook verlengstukke van elk ander. Dit sluit in en omsluit wat ek as lewe ervaar, 'n alchemie, 'n misterie." – Sheila Cussons op 'n vraag oor haar kunstenaarskap.

Van links is Hella Döckel, Amanda Botha, Marié Heese en Annet Conradie tydens die Sheila Cussons middag van Stilbaai Leeskring.
ARTIKEL EN FOTO: LOUISE MOUTON, SUID-KAAP FORUM-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'