“Hugo se kundigheid en vaardigheid as teatermaker en die passie waarmee hy kunstenaars se belange op die hart dra, het ons beïndruk,” sê Rhodé Snyman, uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk.
Theart werk die afgelope 20 jaar as ’n vryskut vervaardiger, regisseur, akteur en produksiebestuurder in verskeie vertakkings in die vermaaklikheidsbedryf.
Sedert 2009 onder die TEATERteater-vaandel vervaardig hy onder meer bekroonde en hoogaangeskrewe produksies soos Tom Lanoye se Bloed en rose: Die lied van Jeanne and Gilles (2014), macbeth.slapeloos (2013), Reza de Wet se Op dees aarde (2012), Manfred Karge se As die broek pas (2010) en Marlene van Niekerk se Die kortstondige raklewe van Anastasia W (2010).
Hy is ’n komiteelid van die Teaterbystandsfonds (TBF) en koördineer en fasiliteer ’n dramagroep as deel van die Goedgedacht Trust in die Boland. Theart het ’n B-graad en Meestersgraad in drama aan die Universiteit Stellenbosch verwerf, waar hy ook ’n deeltydse dosent is.