Gallery Video
HEIDELBERG NUUS EN VIDEO - Harmonie wink feestelik in Heidelberg. Die Hessequa-harmoniekunstefees vind vanjaar van 17 tot 21 September die sewende keer plaas.
Die amptelike feesprogram is onlangs by De Warenmarkt in Stellenbosch bekendgestel. Dié fees bring jaarliks wêreldgehalte produksies na die platteland.
Die program sluit kunsuitstallings, toneel, boekgesprekke, klassieke en ligte musiek in.
Die swierige geselligheid op 8 Augustus is bygewoon deur van die kunstenaars wat gaan optree, borge, organiseerders van ander kunstefeeste en feesvriende wat passievol oor kuns en musiek kon gesels.
Die musici Elna van der Merwe, Susan Mouton en Zanta Hofmeyr, wat by die fees gaan optree, het saam musiek gemaak en ook Jacobi de Villiers begelei in haar uitvoering van Habanera uit Bizet se opera Carmen.
Grant Riddles, Hessequa-burgemeester, het die finansiële inspuiting in die omgewing uitgelig. “Die gastehuise is volbespreek en feesgangers ondersteun die onderskeie plaaslike besighede ‘n week lank.”
FOTOGALERY: Harmoniefees in Heidelberg wink
Cornelia Faasen, uitvoerende hoof van die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief (NATi), het by die programbekendstellingsfunksie gepraat oor die waarde van kuns en musiek op die platteland. “Ons wat die vermoë het, het ‘n verantwoordelikheid om die kunste te ondersteun.”
Sy beklemtoon hoe belangrik dit is om kinders aan musiek en kuns bloot te stel. Die sangeres Jacobi de Villiers gaan juis vanjaar spesifiek op jong luisteraars fokus tydens ‘n spesiale gratis aanbieding vir voorskoolse kinders by Hoërskool Heidelberg.
Die gewilde RSG-aanbieder Haidee Muller-Isaacs, wat vanjaar die boekbesprekings gaan aanbied, was die seremoniemeester.
“Dit is vir ons belangrik om musiek en kuns toeganklik te maak en ons sien daarna uit om ons gewaardeerde, lojale ondersteuners asook nuwe besoekers by vanjaar se Hessequa-harmonie te sien,” sê Niël Rademan, die feesbestuurder.
* Suid-Kaap Forum is vanjaar die fees se mediavennoot.
* Kaartjies is aanlyn beskikbaar by webtickets.co.za of kan kontant gekoop word by Karee Tree in Heidelberg. Besoek hessequaharmonie.co.za vir meer inligting en die volle program.
VIDEO: Die Hessequa-harmoniekunstefees vind vanjaar van 17 tot 21 September
Die sewende Hessequa-harmoniekunstefees wink. Hier is Shimri Muir (sosiale media en verblyf), Lindi Heila Smit (navrae en kaartjies), Niël Rademan (feesbestuurder), Betsie Ryke (koördineerder van die Voor-inni-koor-projek), Jeanne-Mari Gerber (rekeninge) en Naomi Willemse (media-skakelbempte).
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’