HESSEQUA NUUS - Twee uitsonderlike uitreikkonserte word gedurende September by twee skole as gemeenskapsentra in die streek aangebied.
Die Kaapse Filharmoniese Jeugorkes, onder leiding van Brandon Phillips word gratis vir die publiek by Hoërskool Heidelberg op Vrydag, 23 September om 13:00 aangebied.
Hoërskool Langenhoven in Riversdal is volgende aan die beurt op Saterdag, 24 September om 11:00.
Die optredes word met die ondersteuning van die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport (DKES) en die Hessequa-burgemeestersfonds aangebied.
"Die departement is trots om hierdie geleentheid te ondersteun. Dit is belangrik vir ons dat mense in gemeenskappe buite die Metro ook toegang tot hierdie soort opvoerings kry," het Tania Colyn, DKES hoof van kommunikasie gesê.
Belangstellendes kan Karen Breytenbach kontak by finansiesratem@gmail.com oor die uitreikkonsert in Riversdal en vir Betsie Ryke by betsie@ruralarts.co.za oor die uitreikkonsert by Hoërskool Heidelberg.
Ander spesiale projekte wat gratis vir die gemeenskap aangebied word, is die Suidoosterfees Talentsoektog en Voor in die koor, 'n nuwe Hessequa Harmonie om koormusiek te bevorder op Saterdag, 17 September in Heidelberg se stadsaal.
Die drie kategorieë waarvoor ingeskryf kan word vir die talentsoektog, is sang (solo/koor), instrumente (solo/orkes) en dans (solo/groep).
Items moenie meer as drie minute lank wees nie.
Inskrywings kan gerig word aan Robyn.September@media24.com
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'