STILBAAI NUUS - 'n Stuk van die bekende Preekstoelrots in die see by Stilbaai het sowat 23 jaar lank voor die plaaslike poskantoor gestaan, maar min mense ken die interessante verhaal agter dié historiese rots.
Die stuk rots het in die vorige eeu van die Preekstoelrots losgebreek en is in 2003 na die poskantoor verskuif, waar dit vir die volgende twee dekades gestaan het.
Namate die poskantoor deesdae deur aansienlik minder mense besoek word, het die Stilbaai-Argeologievereniging besluit dat dié historiese stuk rots 'n meer gepaste en sigbare tuiste verdien.
Met die goedgunstige hulp van Hessequa-munisipaliteit is die rots vervolgens na sy nuwe tuiste in die tuin van die Stilbaai-toerismeburo verskuif.
Op Donderdag 20 Augustus is 'n gedenkplaat by die rots deur Coenie Scheepers, voorsitter van die Stilbaai-Argeologievereniging, onthul.
Heelwat belangstellendes het die onthulling bygewoon, terwyl van die dorp se ouer inwoners interessante staaltjies oor die stuk rots gedeel het.
Die voormalige munisipale bestuurder, Jan Veldsman, het onder meer verduidelik presies waar dié besondere stuk rots oorspronklik aan die Preekstoelrots gesit het.
Die hoop is dat die rots op sy nuwe, finale rusplek nog vir baie geslagte die verhaal van Stilbaai se unieke natuurlike en kulturele erfenis sal help vertel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’