STILBAAI NUUS - Die Stilbaai Kapgroep, onder leiding van Denis Fraser, gaan Saterdag 11 Julie weer die stryd teen indringer-rooikrans (Acacia cyclops) voortsit en doen 'n beroep op die gemeenskap om saam te kom help.
Vrywilligers vergader om 08:00 by die publieke toilette langs die karavaanpark in Stilbaai-Oos voordat hulle, gewapen met kettingsae, snoeiskêre en ander toerusting, die indringerplante begin verwyder.
Die groep het reeds gedurende Junie 'n groot deel van die gekose gebied skoongemaak, maar daar is steeds heelwat werk wat gedoen moet word. Om dié rede sal die fokus weer op dieselfde terrein wees om die opruimingswerk voort te sit.
Volgens die groep maak vele hande ligte werk, en daarom word inwoners en besoekers uitgenooi om net twee ure van hulle tyd af te staan om 'n betekenisvolle bydrae tot die bewaring van Stilbaai se natuurlike omgewing te lewer.
Die verwydering van rooikrans help om inheemse plantegroei te herstel, biodiversiteit te beskerm en die dorp se natuurlike skoonheid vir toekomstige geslagte te bewaar.
Enigiemand wat wil deelneem, word aangemoedig om geskikte werksklere te dra en, indien moontlik, eie gereedskap saam te bring.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’