Die afgelope week het ek berig oor 'n man van Hartenbos wat tot altesaam 90 jaar gevangenisstraf gevonnis is vir die verkragting en seksuele aanranding van twee seuns, toe 10- en 11-jaar-oud.
Dit was die ma van die seuns wat, die oomblik toe sy daarvan bewus geraak het, dit dadelik by die polisie aangemeld het.
Die ma het nie voor daardie dag van die verkragtings en die seksuele aanrandings geweet nie.
Dit is reeds vier jaar gelede. Sedertdien het daardie ma en haar twee seuns 'n pad gestap wat min van ons al gestap het.
Daardie pad het bestaan uit die een na die ander hofsaak. Kruisondervraging. Daar was 'n borgaansoek. Daar was 'n pleit. Die verdagte het volgehou dat hulle leuens vertel. Getuienis moes in die hof gelewer word. Die slagoffers moes alles wat gebeur het neerskryf en aan 'n ondersoekbeampte, wat hulle nie ken nie, vertel. Die man is uiteindelik, na vier jaar, skuldig bevind op die aanklagte teen hom.
'n Ma en haar twee seuns, wat deur 'n pedofiel gemanupileer is, het die moed gehad om die lang pad van die gereg te stap. Hulle het slagoffers verder af in die pad gespaar. Volgende kon dit dalk jou seun wees.
Na die vonnisoplegging was die ma dankbaar dat die man vir minstens 35 jaar agter tralies sal sit. Sy was trots op die moeilike pad wat sy en haar seuns aangedurf het asook die oorwinning, wat natuurlik bittersoet is.
Maar toe begin lesers op sosiale media onder die kommentare-afdeling klippe na die ma gooi. Verwyte en onsensitiewe opmerkings is teenoor haar gemaak.
In 'n boodskap kort daarna skryf sy vir my: "Watter ander ma gaan 'n saak maak as hulle lees waardeur ek nou gaan? Is mense nie veronderstel om ouers aan te moedig in plaas daarvan om hulle te kruisig nie?"
Oproep
Kort daarna lui die telefoon in my kantoor. Dit is 'n ma van twee seuns. Sy sê die beskuldigde se naam in my ore. My moed sak in my skoene.
Sy vra bekommerd wat ek voorstel, want die beskuldigde was 'n huisvriend van hulle en het gereeld haar jong seuns geneem om by sy huis te gaan swem. Sy het hom vertrou.
Moet net nie die mense se kommentaar op Facebook lees nie, flits dit deur my gedagtes terwyl ek met haar gesels.
Want, in plaas daarvan dat 'n ma, wat die moed gehad het om 'n saak by die polisie aanhangig te maak, deur ons gemeenskap onderskraag en ondersteun word, is sy uitmekaar geskeur.
Watter boodskap stuur dit vir slagoffers van seksuele misdrywe? Of vir ma's wat bewus word van sulke dade teenoor hulle kinders?
Ek dink aan slagoffers van seksuele misdrywe wat nie geglo word nie en mense wat te bang is om daaroor te praat. Vir hulle wil ek net sê: ek is jammer dat jy nie geglo is nie, want ek weet nie watter wending my eie lewe sou neem as niemand my geglo het sou so iets met my gebeur het.