Gallery Update
STILBAAI NUUS - Die rots en strand-vrouehengelkampioenskap het vanaf 13 tot 16 Februarie op Mosselbaai plaasgevind en die dames het Donderdag 15 Februarie vir die dag by Lappiesbaai gehengel.
Die kompetisie op nasionale vlak was die hele week baie sterk, hoewel die suidewind en koeler water by Stilbaai tot gevolg gehad het dat die ongeveer 50 dames meestal sandhaaie uitgetrek het.
Elsabé Campbell van die Weskus-span het die grootste eetbare vis van die dag uitgetrek toe sy 'n kabeljou van 2,65 kg land toe gebring het.
Alle visse is weer veilig in die see vrygelaat.
KwaZulu-Natal het die nasionale kompetisie gewen en was 'n skrale 2.34 punte voor Eden, wat tweede was met die Westelike Provinsie derde.
Die Stilbaai-dames het baie goed gevaar met Elzanne Cronjé wat haar Protea-kleure ontvang het en na drie jaar, is sy derde op die ranglys in Suid-Afrika.
Sy was 17de algeheel tydens die kampioenskap.
Haar suster, Mariëtte Westraat is boonop vir die Presidentspan gekies.
Westraad was 27ste algeheel tydens die kompetisie, net voor Wilna Venter (26ste) met Lena Cronje 30ste algeheel.
Stilbaai se AJ de Beer en Ruan Westraad het deel uitgemaak van die bestuur.
Die Proteaspan neem in Desember in Namibië deel, terwyl die Presidentspan in Oktober daar deelneem.
Die Eden-damesspan en bestuur wat aan die rots- en strand-vrouehengelkampioenskap deelgeneem het is van links: Ruan Westraad, Wilna Venter, Antoi Forbes, Marina Fuchs, AJ de Beer, Mariette Westraad, Elzanne Cronje, Lena Middelton en Danie Lodewyk. Foto verskaf
Die ontwikkelingspan het ook die afgelope week op nasionale vlak in Oos-Londen deelgeneem, met Leon van Wyk en Stefan van Huyssteen wat Stilbaai in dié span verteenwoordig het.
Eden het vierde geëindig met Van Wyk wat algeheel 13de was, terwyl Van Huyssteen 18de was.
Die senior A-spanne neem vanaf Maandag 26 Februarie in Port-Elizabeth aan die Rots- en Strandkampioenskap deel.
Verskeie Stilbaai-hengelaars is in die Eden-span opgeneem en sluit in AJ de Beer, Raldu Potgieter, Willie Welman, Matthew Sander, Dirkie Saaijman en Floris Marais (afrigter). Xander de Beer sal vir die Mpumalanga-span hengel.
Dis nie aldag dat mens ongeveer 50 dames op Stilbaai se strande sien wat hengel nie.
Lees 'n vorige artikel:
ARTIKEL: ELZA THIART-BOTES, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'