Gallery
STILBAAI NUUS - Opblaasbootwedrenne by Lappiesbaai se hoofstrand het Saterdag 25 November vir hope aksie gesorg met ongeveer 17 bote wat sake in die tweede ronde van die Westelike Provinsie streekkampioenskap uitgespook het.
'n Span van Stilbaai, Riversdal en Albertinia was onder die deelnemers wat van so ver as die Kaap en die Weskus gekom het.
Van die deelnemers het die wedrenne die naweek as 'n toetslopie voor die jaarlikse Trans Agulhas-opblaasbootwedren gebruik.
Volgens Ryno Becker (snr) van Stilbaai, wat 'n groot rol gespeel het om opblaasbootwedrenne ná 'n afwesigheid van twee jaar weer in dié kusdorp te kry, het die naweek goed afgeloop en het die besoekers en deelnemers dit baie geniet.
Die branders met gepaardgaande wind het die deelnemers Saterdag behoorlik getoets en die toeskouers het hul asems opgehou met 'n paar bote wat in die branders omgeslaan het.
Plaaslike span JG Horn en Sparky Katzen het die ren as voorbereiding vir die Trans Agulhas gebruik.
Daar was gelukkig geen beserings nie.
Vir Sondag se langafstandren was die toestande steeds rof en die regte keuse skroef het 'n belangrike rol gespeel.
Dié deel van die kompetisie het oor 'n afstand van 108 km gestrek wat deelnemers in nege rondes voltooi het.
Die huidige wêreldkampioene in die gemodifiseerde klas, Johan Lodewyk en Flip Schoeman van Melkbosstrand, asook Raynor Becker, wêreldkampioen in die branders in die Pro Stock-klas was onder die deelnemers.
Uitslae
Lodewyk en Schoeman het die branderkompetisie, asook die langafstandren met hul boot Agri Sell in die gemodifiseerde klas gewen terwyl die Stilbaai-span van Becker en sy medejaer, Hugo Erasmus, met hul boot CMH Volvo die Pro Stock-klas in die branders en oor die langafstand ingepalm het.
Albrecht de Jager en Jaco Farrienen met hul boot L & J Konstruksie Zoutpanputs was die wenners van die standaardklas in beide die afdelings.
Opblaasbootwedrenne by Lappiesbaai se hoofstrand.
JG Horn en Sparky Katzen van Riversdal het met hul boot Van Schalkwyk Vervoer negende in die Pro Stock-klas geëindig, terwyl hulle sewende in die branders was.
Hulle gaan vanjaar ook aan die Trans Agulhas deelneem en so ook gaan die Albertinia-span van Iwan Botha en die 16-jarige Pieter Ooshuizen met hul boot Albertinia Meubelvervoer, wat sesde in albei kategorieë in die Pro Stock-klas klaargemaak het.
Becker het Hessequa-munisipaliteit en die onderskeie rolspelers, asook Stilbaai Spar na afloop van die renne vir hul betrokkenheid bedank en gesê dat daar beplan word om dié ren volgende jaar in Augustus weer in Stilbaai aan te bied.
ARTIKEL & FOTO'S: ELZA THIART-BOTES, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'