Update
STILBAAI NUUS - Die 14-jarige kite surfer, Rut Gouws het twee weke gelede in Marokko gekwalifiseer om die Afrika-verteenwoordiger vir die Jeug Olimpiese Spele wat in Oktober in Argentinië aangebied word, te wees.
Maar hoe vorder 'n jong dame van so 'n klein kusdorpie tot by die Olimpiese Spele? Suid-Kaap Forum het Rut net na haar terugkoms van Marokko op die strand ontmoet om nader kennis te maak.
Sy het reeds op 10-jarige ouderdom begin om kite surfing te doen toe sy saam met haar familie nog in Maputo in Mosambiek gebly het.
Daar was nie baie om te doen nie en ma Griet het eerste begin om dié sportsoort te beoefen.
Rut se nefie en niggie het óók in Mosambiek gebly en het reeds kite surfing gedoen.
So het hulle in kontak met die Italianer, Daniel Genovese, gekom wat begin het om hulle af te rig en toe hulle 'n jaar later na Stilbaai verhuis, het Rut met haar sport voortgegaan.
Sy het begin om aan kompetisies deel te neem en op 11-jarige ouderdom het sy op Bloubergstrand deelgeneem, maar moes in die amateurafdeling meeding omdat daar nie genoeg jong meisies was wat die sport beoefen het nie.
'n Jaar later moes sy selfs teen veel ouer dames deelneem om dieselfde rede.
Haar niggie, Johané Botha neem ook aktief deel en hulle moes in Marokko teen mekaar meeding.
Rut is donker bruin gebrand en dit is duidelik dat sy lief is vir die see en die strand. As sy nie haar sport beoefen nie, swem hulle graag en speel vlugbal op die strand.
Sy kry tans tuisonderrig, maar was verlede jaar in Hoërskool Langenhoven op Riversdal.
Haar sport en deelname aan kompetisies regoor die wêreld, asook die feit dat sy van die wind en natuurlik die see afhanklik is om te oefen, het meegebring dat sy tuisonderrig ontvang.
Sy hou van ander sportsoorte ook en speel graag hokkie, netbal, sokker en tennis terwyl sy op skool graag aan atletiek deelgeneem het. Sy erken dat sy van dié sportsoorte mis.
Sy is lief vir musiek en speel kitaar en klavier, terwyl sy ook sing en in die kerk se orkes speel. Boonop neem sy dansklasse en beoefen hip-hop, ballet-jazz en kontemporêre dans.
Rut Gouws, 'n jong meisie met vele talente.
Om haar sport suksesvol te beoefen, moet sy nie net gereeld op die water wees nie, maar ook aan haar fiksheid werk.
Gelukkig is haar suster, Mirjam Breedt, 'n persoonlike instrukteur en sy oefen drie keer per week by haar terwyl nóg 'n kite surfer, Matt Woolley, haar met tegnieke en styl help.
Griet speel 'n belangrike rol langs die water en hou nie net 'n ogie oor Rut terwyl sy die golwe of die plat water aanpak nie, maar sy is die een wat die bane met boeie op die water uitlê sodat Rut kan oefen.
Pa Willie, wat tans in Mosambiek werk, kon die toer na Marokko saam met Griet en Rut meemaak, maar Griet vergesel haar dogter vir haar deelnames plaaslik en oorsee.
In Rut se oë is Griet haar 'super woman'.
Rut se grootste droom is om 'n professionele kite surfer te word en aan die World Kiteboarding League deel te neem waar deelnemers elke week op 'n ander plek hul sport beoefen.
Haar rolmodel is Bruna Kaijiha. Op 'n vraag of sy al bang was terwyl sy besig is om te kite surf, antwoord sy nee, hoewel sy baie bang is vir bloublasies en haaie. "Maar om te bid is 'n goeie back-up," lag dié gelowige blonde meisie.
Rut gaan in Mei aan die wêreldkampioenskap in China deelneem voor sy in Oktober Suid-Amerika toe vertrek vir die Jeug Olimpiese Spele.
Lees 'n vorige artikel: Jeug olimpiese spele wink vir Gouws
ARTIKEL & FOTO'S: ELZA THIART-BOTES, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'