Update
STILBAAI SPORT NUUS - Die jaarlikse Aquila Safari Trans Agulhas Challenge rubberbootwedren het talle toeskouers van alle ouder-domme na Lappiesbaai-strand gelok.
Die bote het Sondagoggend 29 Desember aan die einde van die tweede skof wat tussen Mosselbaai en Stilbaai plaasvind, op Lappiesbaai aangekom.
Motors het al vroegoggend weerskante van Hoofweg-Oos gestaan en jonk en oud het die glyerige sand van die duine aangedurf om so na as moontlik aan die water en die aksie te kom. Beamptes het hul hande vol gehad om veral jong entoesiaste buite die sperlyne te hou.
Deur die loop van die middag is die Motul King of the waves-ren beslis, waarna die deelnemers en hul ondersteuningspanne op die rugbyveld saamgetrek het om te oornag.
Vroeg Maandagoggend 30 Desember het 'n effens kleiner groep toeskouers die meer as 40 bote onder swaar wolke en effense motreën vir die volgende skof na Struisbaai afgesien.
Die wedren wat op 28 Desember op Plettenbergbaai begin en op Gordonsbaai geëindig het word oor vyf dae en 700 km beslis. Die kompetisie vind elke jaar sedert 1988 plaas en word as die taaiste ren van sy soort ter wêreld beskou.
Die huidige Suid-Afrikaanse kampioene in die gemodifiseerde klas, Marc Gleed en Wiltas Leeuwner het weer in dié klas geseëvier. Eben de Bod en Gerhard Fernhout was nie net die wenners in die Pro Stock-afdeling nie, maar het ook as algehele wenners van die wedren uit die stryd getree. Die titel in die Pro Stock beginnersafdeling is deur JC Colombo en Nico-Merwe le Roux ingepalm, terwyl Tiaan Coetzee en Jaco Engelbrecht as die beste nuwelinge geëindig het.
Die deelnemers is gereed om vir die volgende skof weg te spring. Foto: Deona Aucamp
Lees 'n vorige artikel: Trans Agulhas wedren lok talle toeskouers in Stilbaai
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'