STILBAAI NUUS - Die sesde Stilbaai Kajak Classic hengelkompetisie oor twee dae, het op twee en drie Maart plaasgevind en hengelaars is tot die uiterste beproef.
Die 84 hengelaars, van hulle uit die Oos-Kaap en heelwat Kapenaars, was Saterdag twee Maart die heeldag op die water, maar die koue seetoestande het die vis weggehou en die vangste was nie soos wat hulle graag sou wou hê nie.
Sondagoggend het hulle nog kans gekry, maar heelwat het besluit om nie weer uit te gaan nie.
Die omgewing en Stilbaai se gasvryheid het egter gesorg dat die hengelaars hulle nog steeds baie geniet het, in en buite die water.
Bronnie Wolhuter van Swellendam het Sondag met die groot prys weggestap, 'n pragtige kajak ter waarde van R18 000, omdat sy totale punt die beste was.
Tivo du Toit het ook 'n kajak ter waarde van R18 000 gewen in die gelukstrekking. Te verstane was die man skoon emosioneel daarna.
In hierdie goed georganiseerde kompetisie was daar heelwat duursame pryse en 'n groot klomp gelukstrekking pryse.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’