Gallery Update Video
STILBAAI NUUS EN VIDEO'S - Son, see en 'n aansteeklike kameraderie het gesorg dat die eerste kajak-visvangkompetisie in dié kusdorp 'n klinkende sukses was.
Twee-en-twintig deelnemers het die naweek van 9 tot 10 Februarie sake uitgespook vir pryse ter waarde van meer as R30 000. Die twee kategorieë was, grootste visgevang en die swaarste totale aantal visse gevang. Geen visse is land toe gebring nie. Elke vangs is gemeet en weer vrygelaat. 'n Nasionale standaard ten opsigte van die verhouding tussen die lengte van 'n vis en sy gewig is toegepas om gewig te bepaal. Hengelaars se ongeskrewe kode van sportmanskap en eerlikheid was bepalende faktore.
Die kompetisie is deur Eugene van der Walt, asook Stefan en Susan Grové georganiseer. Volgens Van der Walt is daar net twee ander soortgelyke kompetisies op die Kaapse kajak-visvangkalender en was daar 'n behoefte aan meer geleenthede. Stilbaai was 'n logiese keuse, met die sport wat elke maand in gewildheid groei.
Vra jy 'n kajakhengelaar waarom hy spesifiek dié vorm van die sport gekies het, kom die antwoord sonder huiwering: "As jy eers een keer ervaar het hoe dit voel om so naby die water te wees en 'n vis te vang met slegs jou eie vermoëns sonder enige meganiese hulp, sal jy nie weer op 'n ander manier wil hengel nie!"
Die 54 cm Bonito wat Francois Prinsloo van Hermanus uitgetrek het, het aan hom die eerste prys besorg in die kategorie vir die grootste vis, asook 'n trofee vir die grootste Bonito gevang tydens die kompetisie. Dit was Prinsloo se heel eerste probeerslag met kajakvisvang. Die tweede en derde plekke onderskeidelik is deur Cassie Theron en Nico van Vliet ingeneem.
Die eerste prys vir die swaarste aantal visse het gegaan aan Alan Neate, terwyl Jakkie Viljoen en Alten Roelofse die tweede en derde plekke ingepalm het. Twee spesiale pryse is aan die mees entoesiastiese deelnemers toegeken, wat deur hulle mede-deelnemers aangewys is. Eerste prys hier het gegaan aan Johan Oelofse, met Iggy Goosen in die tweede plek.
Die organiseerders bedank al die borge wat pryse geskenk het, asook alle deelnemers.
Volgende jaar se kompetisie is reeds in die beplanningstadium en sal ook in Februarie plaasvind.
Kyk twee video's hieronder:
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'