STILBAAI NUUS - Hengelaars het hierdie vakansie byna daagliks haaie aan die hoek gehad reg oorkant die NSRI stasie in Stilbaai.
Christo Claassen van Oudtshoorn het Donderdag middag 11 Januarie net ingegooi toe hy 'n byt kry en 'n pragtige haai gevang het.
Hy was so opgewonde dat hy gesê het hy staan sommer heelnag net daar en vang.
Selfs die ses-jarige Lea-Neigh Retief van Citrusdal het 'n bronshaai van sowat 40 cm aan die hoek gehad gedurende die vakansie. Gelukkig was haar pa, Jakobus, onmiddellik by om die stok te gryp en die haai uit te bring.
Daar was berigte van haaie van sowat 1.8 meter lank tot selfs 'n haai van 180 kilogram wat rondom die hawe gevang is, meestal vaalpens- en bronshaaie.
Die laaste haai aanval was egter op 25 Oktober 2015 toe Stewie Anderson, 'n plaaslike bouer, aangeval is by Morrispunt terwyl hy branderplank gery het.
Voor dit is Jacques Mostert van Centurion in Julie 2012 aangeval toe hy en vriende by Sandbaai in Jongensfontein branderplank gery het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’